Sunrisers is SA20-wenners!

Roelof van der Merwe spog met boulsyfers van 4/31 in die SA20-eindstryd. Foto: Twitter via Sunrisers Eastern Cape.

Phil Salt het vandag die eerste bal van die SA20-eindstryd oor die grenstou gejaag. Met die volgende aflewering is hy vanaf ʼn foutbal uitgevang.

Ja-nee, het almal gedink; dit is ongetwyfeld die Pretoria Capitals se dag op die Wanderers.

Maar ná 35,5 boulbeurte was dit Aiden Markram van die Sunrisers Eastern Cape wat die silwerware omhoog gehou het nadat sy span die hoogsaangeskrewe Pretorianers met vier paaltjies geklop het.

Die Capitals is vir slegs 135 lopies in minder as 20 boulbeurte uitgeknikker met Roelof van der Merwe wat die grootste vewoesting onder die kolwers gesaai het.

Die 38-jarige draaier het beslis sy Bulldog-bynaam gestand gedoen: Wanneer hy eers ʼn houvas op ʼn wedstryd het laat hy nie sommer los nie en hy het met wip en toorkuns van vier kolwers ontslae geraak.

Hy het saam met Markram (wat net 17 lopies in sy vier boulbeurte afgestaan het) en Ottniel Baartman gesorg dat die Pretorianers se kolwe maar net nie wou saampraat nie en ʼn teiken van 136 lopies is nooit genoeg in ʼn eindstryd nie.

In antwoord op die Capitals se kolftreurmare het die Sunrisers vroeg vir Temba Bavuma verloor toe hy wild na een van Eathan Bosch se aflewerings geswaai het.

“Wat op aarde was daardie hou?” het ʼn oorblufte Kevin Pietersen vanuit die kommentatorshokkie laat hoor toe die Protea-witbalkrieketkaptein die pad terug na die kleedkamer moes aanpak.

Maar in Adam Rossington het die Sunrisers ʼn wedstrydwenner gevind wat die een grenshou na die ander gemoker het.

Saam met Jordan Hermann het hy binne ʼn japtrap 67 lopies om die tweede paaltjie aangeteken en die wedstryd het heeltemal buite die Capitals se bereik gelyk.

Tog het Adil Rashid, Anrich Nortjé en selfs Colin Ingram hul bes gedoen om die Sunrisers se trein te ontspoor, maar hulle het net hopeloos te min lopies op die telbord gehad.

Marco Jansen het die wenlopies met twee grenshoue vanaf James Neesham se boulwerk geslaan en vandag word daar behoorlik in die Oos-Kaap feesgevier; van Jeffreysbaai tot Gqeberha.

  • Opsomming van telkaart:

Pretoria Capitals 135/10 in 19,3 boulbeurte: Rilee Rossouw 19, Roelof van der Merwe 4/31 en Ottniel Baartman 2/22.

Sunrisers Eastern Cape 137/6 in 16,2 boulbeurte: Adam Rossington 57, Aiden Markram 26 en Anrich Nortjé 2/21.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.