SuperSport-voorval: Dít laat Willemse uitloop

Ashwin Willemse. Foto: SuperSport

ʼn Tegniese fout in SuperSport se ateljee en ʼn opmerking deur Naas Botha het glo daartoe gelei dat Ashwin Willemse tydens ʼn regstreekse uitsending uit die ateljee gestap het.

Sport24 berig die paneel, bestaande uit Botha, Willemse, Nick Mallett en aanbieder Motshidisi Mohono, het aanvanklik tien minute gehad om te gesels voordat die wedstryd tussen die Leeus en die Brumbies sou begin.

Die gesprek is egter ná drie minute kortgeknip sonder Mohono se wete en dit het daartoe gelei dat Willemse nie ʼn spreekbeurt gekry het nie. Daar is toe gevra dat Willemse eerste ʼn spreekbeurt kry ná die wedstryd. Botha het glo net voor die regstreekse uitsending vir Willemse gesê: “Dis als joune”, en gelag.

Mohono het dadelik met Willemse begin gesels ná hulle weer regstreeks uitgesaai het. Willemse het Botha vir sy mening gevra waarna Mallett sy ontleding van die wedstryd gegee het. Die voorval het plaasgevind toe Mohono weer met Willemse wou praat.

“Jy weet wat, ek speel al lank hierdie sportsoort, nes almal van ons hier. Ek, as speler, is vir ʼn lang tydperk as kwotaspeler bestempel. Ek het hard gewerk om my eie respek in dié spel te verdien, ek gaan nie verkleineer word deur twee enkelinge wat in apartheid, ʼn gesegregeerde era, gespeel het en my wil kom ondermyn nie. Ek dink ek het nou genoeg gehad, ek kan nie met mense werk wat ander ondermyn nie.”

Daarna stap hy na Mallett en Botha en sê: ‘Julle kan maar daar sit en lag’, waarop Mallett antwoord: ‘Ek lag nie daaroor nie.’

‘n Skermskoot uit die video.

“Julle weet presies wat gebeur het, dis reg so, ek gee nie om om verspot te wees nie. Ek is bly dit gebeur op regstreekse televisie sodat mense kan sien, julle twee sit hier – nee dis reg [sic].” En dan stap hy van die stel af.

SuperSport het Maandag ʼn vergadering met Willemse, Mallett, Botha en Mohono gehou. Anthony Banks, die regisseur, en Mandla Ntsibande, die vervaardiger, was ook teenwoordig.

“Die vergadering het positief verloop. Almal was beleef en die aanbieders het direk met mekaar gepraat. ʼn Beduidende stap is gedoen om gemeenskaplike terrein te vind,” het SuperSport ná die vergadering in ʼn verklaring gesê.

“SuperSport en MultiChoice het egter alle partye versoek dat ʼn dieper ondersoekproses voortgesit word sodat die verwikkelde probleme van die verlede wat nou in die werkplek opduik, opgelos kan word,” was die slotsom.

“Ons het kragtige gesprekke gehad waarin ek my standpunte gelug het. Ek is baie dankbaar vir die proses wat deur SuperSport onderneem word. Die kompleksiteit van die kwessies is baie diep,” het Willemse ná die vergadering gesê.

Mallett het gesê hy was ook dankbaar vir die geleentheid om sy kant van die saak te stel. “Daar is duidelik kwessies waarmee ons moet worstel om op te los. Ek is meer as bereid om saam te werk om ʼn oplossing hiervoor te vind.”

Botha het die eerste vergadering as nuttig bestempel. “Ons het belê in ʼn proses om sake op te los en ek is vol vertroue dat ons ʼn bevredigende oplossing sal kry,” het hy laat hoor.

Calvo Mawela, uitvoerende hoof van MultiChoice, het ná die vergadering gesê daar is geen spanning tussen die aanbieders nie. “Uit vandag se gesprekke is dit duidelik dat hulle in die toekoms nog sal kan saamwerk,” het hy gesê. “Daar was geen tekens dat hulle nie sal kan saamwerk nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

46 Kommentare

jongste oudste gewildste
Genieve

Ashwin nou toe dit jou beurt was om jou kommentaar te gee hoekom het jy nie??.. of jou aandag was glad nie by die 2de helfte van die game nie…en soma net dink dit was reg wat jy gedoen het nou verstaan ek glad nie..waar die rasisme inkom nie kan iemand my help asb???

Tekkie

JANEE en steeds word NAAS en MALLET as die skuldiges uitgemaak . gaan die TEGNIESE Mense nou om verskoning vra en gaan al die vieslike kommentators en Castle en die Minister en almal wat tot die geveg toegetree het EN vir NAAS en MALLET onskuldig as rassiste uitgeskel het om verskoning vra? Ek sou julle boots off sue .. julle kan nie mense apartheidspelers noem en uitmaak as rassiste en hulle skuldig bevind op so iets nie. MMUSI ons wag nog vir jou verskoning ook. HOEKOM wil hulle saamwerk met iemand wat hulle ONSKULDIGLIK ‘n rassis en apartheispeler genoem het.… Lees meer »

ek sê maar

Ai tog hoe kinderagtig was dit toe van hom. Hoeplik het hy Naas en Nick om verskoning gevra vir sy vinnige beskuldigings in plaas van agterna oor alles te praat en te hoor wat aangaan. Simpel verby> Kan iemand van die pers ook nou die minister nader en vra hoekom sy sommer vir afdankings gevra het en wat het sy hierop te sê nou dat die waarheid uit is?

Koos de Meyer.

Omdat hulle met rassisme behep is span hulle die kar voor die perde in. Dit is ongevraag en skep hulle onnodig probleme. Kleinlike minder waardigheid. Super sport het dit goed hanteer. Ten minste nie ‘n Spur geval nie.

Lollie

Waarom moes ‘apartheid ‘ opgehaal word? Is dinge in ons land nie al erg genoeg nie? !
Laat Willemse om verskoning vra daarvoor want dit was onnodig en ongevraagd!
Mense in sy posisie moet liewer probeer om eenheid te skep ipv verdeeldheid!