Swanger vrou se hel by hospitaal

Die Witbank-hospitaal in Mpumalanga. (Argieffoto: VF Plus)

Die DA het die gesondheidsombudsman, prof. Taole Mokoena, asook die Menseregtekommissie (MRK) gevra om ondersoek in te stel na wat die party bestempel as “gevaarlike toestande” by die Witbank-hospitaal in Mpumalanga.

Die DA het verlede week ʼn oorsigbesoek aan die hospitaal gedoen net enkele weke nadat die party ʼn swanger vrou by die hospitaal te hulp gesnel het.

Cindy Steyn was in daardie stadium 22 weke swanger toe haar blindederm gebars het terwyl sy gewag het op ʼn afspraak by die Witbank- provinsiale hospitaal. Nadat sy ure lank gewag het, is haar blindederm verwyder en is sy in die chirurgiese eenheid opgeneem waar sy glo aan verwaarlosing en misbruik onderwerp is, sê Michele Clark, die DA se woordvoerder oor gesondheid.

Was dit nie vir Steyn se lewensmaat, Pierre Botha, wat by haar om hulp aangeklop het nie, sou Steyn moontlik nie oorleef het nie, sê Clarke.

Nadat sy ontslaan is, is Steyn aangesê om die plaaslike kliniek elke tweede dag vir wondversorging te besoek. Haar wonde het egter besmet en septies geword en sy is na die hospitaal terugverwys waar behandeling aanvanklik geweier is, sê Clark.

Die situasie is onder haar aandag gebring en Clark het dr. Nicholas Crisp, adjunk-direkteur-generaal van gesondheid, genader. Op sý bevel het die Witbank-hospitaal hom eindelik “verwerdig” om Steyn te behandel, sê Clark.

ʼn Paar weke later het Steyn ernstige krampe begin ondervind en is sy na die hospitaal gehaas. Die hospitaal het aanvanklik geweier om ʼn keisersnee te doen, selfs al het ʼn verpleegster wat met haar toestand vertroud was, gewaarsku dat Steyn op geen ander manier geboorte sou kon gee nie.

Steyn is intussen ontslaan en moet die hospitaal vir wondversorging besoek, maar volgens Clark het sy geen van die vereiste antibiotika gekry om die moontlike terugkeer van die infeksie te keer nie. Daar was glo geen voorraad by die hospitaal nie.

Die DA het die hospitaal vroeër besoek, maar sê sedertdien is nog niks gedoen wat die tekort aan beddens, personeel, voorraad en medisyne, asook probleme met instandhouding en stukkende toerusting wat lei tot ʼn onveilige en onhigiëniese fasiliteit betref nie.

“Die wanbestuur van beskikbare ruimte om die nodige gesondheidsdienste in stand te hou is net nog een van die sistemiese mislukkings wat pasiënte se lewe in onnodige gevaar stel,” sê Clark.

“Ongelukkig is Cindy se ondervinding een van vele wat by openbare gesondheidsorgstelsels landwyd gesien word, waar daar gesteier word weens dieselfde wanbestuur en gebrek aan sorg wat tekenend van openbare gesondheidsorg is.”

Clark sê hospitale behoort plekke van veiligheid en vrede te wees, waar pasiënte gehaltesorg ontvang.

“Ongelukkig vrees baie mense wat aan openbare gesondheidsorg onderwerp word vir hul lewe – en weet hulle nie of hulle die hospitaal sieker gaan verlaat as wat hulle ingekom het nie. Tensy die sistemiese onbeholpenheid, gevoelloosheid en wanbestuur nie heeltemal uitgeroei word nie, gaan die sektor vir openbare gesondheidsorg aanhou verkrummel.”

Sy sê dit is ʼn “tragedie” dat die ANC steeds die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) as ʼn toweroplossing vir die probleme voorhou, terwyl die party alte goed weet dit is gedoem tot mislukking omdat die party verseg om dié dinge wat werklik die situasie kan omkeer, in werking te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Catherina ·

Arme vrou. NHS … wat lê vir ons voor in hierdie 3de wëreld, korrupte land? Ons kan nie almal Rusland toe vlieg vir mediese behandeling nie

Johan ·

Skokkende nuus, maar dieselfde storie oor en oor! En soos met alles, gaan die land se totale bestuur vinnig agteruit….net jammer dat mense gaan sterf agv nalatigheid en onkunde!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.