Talle mense is laat Donderdagmiddag deur ʼn swerm bye gepak by ʼn winkelsentrum in Weststraat in Pretoria.
Nick Dollman, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die voorval het omstreeks 15:50 plaasgevind toe ʼn groot tak van een van die nabygeleë bome met ʼn elektriese saag verwyder is.
“Voor ons by die toneel opgedaag het, was dit blykbaar chaoties. Mense het glo rondgehardloop, sommiges is weggesleep van die swerm en ander het die swerm bye met ʼn brandblusser bygedam,” het Dollman verduidelik.
Paramedici het nagenoeg tien mense ondersoek, wat twee vroue insluit wat uit hul kar geklim het om ʼn bejaarde vrou – op wie die bye in daardie stadium toegesak het – te help.
“Al dié pasiënte was in ʼn stabiele toestand en het verdere mediese behandeling geweier.”
ʼn Seun (11) is egter allergies vir bysteke en was nie so gelukkig nie. “Hy is verskeie kere gesteek en het dringend behandeling nodig gehad. Hulle het hom ver van die bye af behandel en sowat 13 angels uit sy kop en nek verwyder. Hy is na ʼn hospitaal gehaas vir verdere mediese behandeling.”
Sy toestand was glo ernstig maar stabiel.
Ai toggie, wat n pynlike situasie vir almal. Die bye is verward en gaan op die aanval uit en mensekinders is in hul visier. Jammer vir al die mense wat gesteek is, en ook jammer vir die bye want hulle lewer so n belangrike taak in ons ekologie
Mense moet meer versigtig wees met bye hierdie tyd van die jaar. Enige swerm bye sal nou aggressief wees omdat hulle die voorraad heuning wat hulle opgebou het moet beskerm want dit is hulle kos om deur die wintermaande te kom.
Byeboer, dankie vir jou kommentaar. Meeste van die tyd is die kommentaar van lesers uiters pateties totdat ‘n kundige persoon kom met sy nuttige kommentaar. Dankie Byeboer.