Taakspan lewer voorlopige verslag oor sendingstasie

Premier Sihle Zikalala. Foto: KZN-regering/Facebook

KwaZulu-Natal se uitvoerende raad het vandeesweek ʼn voorlopige verslag ontvang rakende die bewerings oor die KwaSizabantu-sendingstasie (KSB) naby Kranskop in KwaZulu-Natal.

Sihle Zikalala, provinsiale premier, het ʼn spesiale taakspan saamgeroep om die bewerings teen die sendingstasie te ondersoek. Die taakspan, onder leiding van Neliswa Peggy Nkonyeni, LUR vir menslike nedersettings en openbare werke, wil meer besonderhede hê rondom die ernstige bewerings teen die sendingstasie.

Maroela Medie het vroeër berig bewerings van verkragting, seksuele mishandeling en geldwassery wat reeds jare deur oud-lede van dié sendingstasie gemaak word, is op nuut aan die lig gebring in ʼn reeks mediaberigte deur News24.

Die taakspan sal intussen voortgaan om hulle eie ondersoek te doen terwyl hulle ook die huidige ondersoek van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe (CRL) sal “ondersteun en respekteer”.

Die voorlopige verslag is saamgestel nadat LUR’e en verteenwoordigers van verskeie departemente in die provinsie verlede week die sendingstasie besoek het.

Nkonyeni is deur Weziwe Gcotyelwa Thusi, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, vergesel. Saam met hulle was daar ook verteenwoordigers van die premierskantoor en die departemente van arbeid, gesondheid, onderrig, ekonomiese ontwikkeling, handels- en omgewingsake en binnelandse sake. Nog toevoegings tot die lys sluit in ʼn afgevaardigde van die Ilembe-distrik se burgermeesterskantoor en die Suid-Afrikaanse Polisiediens.

Intussen het premier Zikalala ook gesê dat hy in verbinding gaan tree met winkelgroepe wat weens die bewerings hulle aankope van KwaSizabantu-produkte opgeskort het. Die bekende watervervaardiger aQuellé het ʼn suksesvolle aanleg by die sendingstasie.

Zikalala het tydens ʼn Covid-19-mediakonferensie ʼn ernstige beroep op handelaars gedoen om nie produkte van die sendingstasie te verban alvorens die ondersoeke na die bewerings nie afgehandel is nie.

Ruth Combrink.

Ruth Combrink, dogter van die stasie se stigterslid, Erlo Stegen, en wat tans as die woordvoerder vir KSB optree, het die week gesê die impak van die bewerings teen KSB het tot dusver verreikende gevolge gehad.

“Die verwoesting en impak wat hierdie bewerings op ons gemeenskap het, is beduidend. Dit gaan nie net oor die werksverliese in ons sakebedrywighede nie, maar ook om die waardeketting wat verskaffers, gemeenskap entrepreneurs en diensverskaffers insluit. Meer as 3 000 poste is alreeds direk geraak.”

Combrink het bygevoeg dat KSB die premier se beroep op handelaars verwelkom en sê gemeenskappe moet nie ly onder bewerings wat nie bewys is nie. KSB hou voet by stuk dat hulle nie aandadig aan enige van die bewerings is nie.

“Uit ons eie ondersoeke is ons vol vertroue dat KwaSizabantu nie aandadig was aan enige van die bewerings nie, maar dat die bewerings betrekking het op individue waarteen die wet sy gang moet gaan, indien dit waar is.”

Die CRL sal die sendingstasie Woensdag weer besoek waarna KSB ook hulle eie getuienis voor die CRL gaan lewer op 22 en 23 Oktober in Durban.

KwaSizabantu ‘nie ʼn kultus of sekte’

Foto: Facebook

“Deur ons ondervinding van die sending se bediening, is ons oortuig dat die sending nie ʼn kultus of ‘n sekte is nie.” So skryf Koos en Elsabé Combrink in ʼn brief gerig aan die redakteur van Maroela Media. Koos en Elsabé is Ruth Combrink se skoonouers.

Die KwaSizabantu-sending is aan die einde van 1966 deur Erlo Stegen, ʼn Suid-Afrikaner van Duitse afkoms, gestig nadat hy geglo het ʼn Christelike herlewing het onder die Zoeloes posgevat. Die sendingstasie beskou homself sedertdien as ʼn sogenaamde herlewingsbeweging.

KSB is as ʼn openbare voordeelorganisasie (PBO) geregistreer. Mense wat na die sendingstasie kom, kan by selfsorg-projekte betrokke raak. Dit sluit onder meer ʼn boerdery, ʼn pottebakkery, ʼn konfytfabriek en verpleegdiens in. Daar is ook opleidingsfasiliteite soos ʼn skool, onderwyskollege en ʼn skool vir volwasse opleiding. Die sendingstasie is ook vir dekades lank ʼn heenkome vir kwesbare individue wat na uitkoms verlang.

Tydens hulle verblyf op KwaSizabantu, het hulle nie die indruk gekry van ʼn kultus of sekte, soos wat daar in die media aangevoer word nie, sê die Combrinks.

Koos, ʼn voormalige leraar by die NG Kerk, en sy vrou is in 1989 deur KSB in diens geneem: Koos as onderwyser en Elsabé as dokter. Volgens Koos het hulle dié besluit geneem nadat hulle reeds vir 10-jaar by die sending betrokke was.

“Die leraar onder wie se voorsitterskap ek gelegitimeer is in die NG Kerk, het te midde van negatiewe gerugte in die verlede, KwaSizabantu self besoek en ʼn jare lange vriend van die Sending geword, tot met sy afsterwe,” skryf Koos, wat in 2014 afgetree het, in die omvattende brief.

Dit blyk ongelukkig nie die geval vir almal te wees wat die sending besoek het nie.

“Dit is hartverskeurend. Al die leuens wat vertel word, is vir my die manier hoe KwaSizabantu steeds uit hierdie gemors wil probeer uitkom terwyl soveel mense se lewens in wrakke langs die pad lê,” sê ds. Louwrens van der Westhuizen, leraar van die VGK Gemeente Thandizwe KwaNgwanase naby Kosibaai.

Van der Westhuizen het in 1984 vir ʼn paar maande op KSB se hoofsendingstasie in Natal gewoon waar hy onder meer koortoere saam met die sending onderneem het. Volgens hom was Erlo Stegen se 12 jaar bediening vóór die sogenaamde 1966-herlewing ʼn baie geseënde bediening gewees, en sê hy glo dat daar vandag steeds van die vrug van daai jare voortleef. Van der Westhuizen vertel dat hy in 1984 self by KSB groot seën in sy persoonlike lewe ervaar het.

‘n Lugfoto van die KwaSizabantu-sendingorganisasie in Kranskop. Foto: Skermskoot/YouTube-video

Hy voeg by dat hy ook deur hulle verblind is. Destyds is daar verskeie kere vir hom uitgewys watter positiewe gevolge die sogenaamde 1966-herlewing onder die Zoeloes meegebring het. Toe hy sowat 13 jaar gelede self as predikant in KwaZulu-Natal begin werk het, en hy die Afrika-kultuur begin leer ken het, was hy ontnugter. Wat bloot die kultuur was, is destyds toegeskryf aan die sogenaamde herlewing.

“Toe ek die Afrika-kultuur leer ken, het ek besef die herlewing waarvan KSB praat is nie ʼn herlewing nie, dit is die kultuur,” vertel Van der Westhuizen.

Wat bygedra het tot sy ontnugtering is die teologie wat deur die sending gebruik word en wat volgens hom “nie op die Woord gegrond is nie”.

“Die plek het amper hoogmoedig begin raak en sy eie kop begin volg. ʼn Kultuur het ontwikkel ‘wat oom Erlo sê’ en nie meer die Woord nie.”

Van der Westhuizen, wat noue bande het met lede van die Stegen-familie wat reeds van die sending af weggebreek het, sê dié lede bid steeds vir die mense daar [by KSB] se “heil en redding”.

“Ek is dankbaar vir wat nou in die media gebeur sodat die goed openbaar kan word. En dat dit gestop kan word, want dis sleg, dis aaklig. Hulle het ʼn manier gehad om vir jare hierdie goed so te manipuleer en onder die kombers te hou. Na my mening is dit ʼn kultus, dit is hartseer maar dit is so. My hart pyn.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Jaaaa, bring die evangelie vir die wat nie eers in YHWH se Raadspan betaan nie…….!!!

Samuel ·

Die Evangelie moet aan alle mense verkondig word. Gebeure soos hier beweer word, maak evangelisering baie moeilik.

Ons as mens kan nie kies aan wie ons die Evangelie wil verkondig nie. Die beweerde gebeure by KSB getuig van die erns van die invloed van die Bose een en sy bose geeste.

Mag Jesus se Naam verheerlik word en Sy evangelie seëvier.

Shalom

Jaco ·

Eks net so ‘n goeie Christen soos dié leiers van KSB. Waarom seën die Here my dan nie met so baie geld nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.