Tabakverbod: Fita bekommerd oor regering wat appelleer

(Argieffoto: Unsplash)

Die Fair-Trade Independent Tobacco Association (Fita) het Dinsdag sy kommer uitgespreek oor die moontlikheid van ʼn hernieude tabakverbod nadat die regering aansoek gedoen het om te appelleer teen ʼn vroeëre hofuitspraak in dié verband.

Die hooggeregshof in Kaapstad het begin verlede maand bevind afsonderingregulasie 45, die verbod op die verkope van tabakprodukte, was onnodig en ongrondwetlik. British American Tobacco South Africa (Batsa) het die saak saam met nege ander applikante teen Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, pres. Cyril Ramaphosa en die nasionale Covid-19-bevelsraad gebring.

Die regering doen nou aansoek vir verlof tot appèl in die appèlhof in Bloemfontein teen die hooggeregshof se uitspraak. Dlamini-Zuma en Ramaphosa voer in hul hofdokumente aan dat die hooggeregshof nie konsekwent was in sy benadering tot die getuienis van kundiges nie. Daar word ook aangevoer dat die reg waarop inbreuk gemaak is, die reg op vryheid van handel en nywerheid is en nié die regte van waardigheid, privaatheid en liggaamlike en sielkundige integriteit nie.

Nkosazana Dlamini-Zuma. Foto: @SAgovnews/Twitter

Volgens Dlamini-Zuma was die doel met die verbod op die verkoop van tabakprodukte tydens vlak 3 om die voorkoms van rook te verminder en sodoende die risiko’s wat Covid-19 vir rokers en mense wat aan rook blootgestel word te verminder. Dit het ook ten doel gehad om skaars gesondheidsorghulpbronne beskikbaar te maak, lewens te beskerm en die potensiële druk op die gesondheidsorgstelsel te verlig.

Fita meen die regering se besluit om teen die hooggeregshofuitspraak te appelleer is “betreurenswaardig” gegewe die onherstelbare skade wat die verbod op die tabakbedryf gehad het.

“Hierdie stap deur die regering is ook kommerwekkend aangesien dit dui op nog ʼn moontlike tabakverbod siende dat die hangende appèl tot gevolg het dat die hooggeregshofuitspraak nie sal geld tot die saak behoorlik aangeroer is voor die howe nie, wat maande of selfs langer kan duur,” het Sinenhlanhla Mnguni, voorsitter van Fita, gesê.

Volgens Mnguni het die regering al ʼn aansienlike bedrag geld en ander hulpbronne ingespan om talle regsaksies teen Covid-19-regulasies te verdedig en kon die geld en hulpbronne eerder ingespan word teen die verspreiding van Covid-19 en die impak daarvan op die land se burgers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.