Talle by Grey Kollege toets positief vir Covid-19

Personeel se temperatuur word gemeet by Grey-kollege in Bloemfontein. (Foto: Verskaf)

Grey Kollege se laerskool in Bloemfontein het 12 gevalle van Covid-19 aangeteken: drie leerders, vier onderwysers en vyf assistente of administratiewe personeellede. By Grey Kollege se hoërskool het twee onderwysers intussen ook positief vir Covid-19 getoets.

Volgens Howard Ndaba, woordvoerder van die Vrystaatse departement van onderwys, sal die skool egter nie sluit nie, maar net die onderskeie klasgroepe waar Covid-19 opgedoen is vir ʼn tydperk isoleer. Slegs twee klasse word tans geraak. Volgens Ndaba sal die gr. 7-klas Maandag reeds terugkeer skool toe en die gr. 3-klas die daaropvolgende Maandag.

Die jaarlikse interskole-sportdag tussen die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) van Pretoria en Grey Kollege van Bloemfontein wat vandag (Saterdag) sou plaasvind, is ook uitgestel weens stygende Covid-19-gevalle in skole. Hulle sou vir die 45ste keer teen mekaar op die veld uitdraf.

Luidens ʼn voorlegging deur die Vrystaatse departement van onderwys het 1 332 leerders en 2 099 onderwysers in alle openbare skole in die Vrystaat die afgelope 14 maande positief getoets vir die virus. Daar is tans 218 aktiewe gevalle in Vrystaatse skole. Altesaam 73 onderwysers en vyf leerders is dood sedert die virus in Maart verlede jaar in Suid-Afrika aangemeld is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

… Syfers en toetse… Nog nooit in die geskiedenis is soveel syfers beraam en beskou en voorgehou soos nou nie. Wat sè die telbord? Hoeveel siek of dood? Hoeveel entstof is toegedien en hoeveel kom nog en hoeveel se datums het verval? Hoeveel weggewys? Hoeveel wyn nog oor in die kas voor CR, om ?? weer syfers voorhou sodat ons vir hoelank weer gehok word? Hoeveel is nog oor? Hoeveel?

christo ·

Positiewe leerders en onderwysers het dikwels geen simptome nie. By sommige skole word personeel wat positief getoets word, geviktimiseer. Die hoof blameer die onderwysers dat hulle, hulself blootgestel het aan die virus terwyl die adder gemaklik agter sy Perspex skerm en masker in sy kantoor sit. Die hoofde wat nié klas gee nié weet nie wat die omstandighede in die klaskamer is nie. Hoe moet ‘n onderwyser sosiale afstand handhaaf as hy of sy iets aan ‘n leerder verduidelik aan ‘n kind wat nie verstaan nie? Laerskool leerders, veral die kleintjies sukkel maar om weg te bly van sy juffrou. Skoolhou is nie ‘n gevoellose beroep nie.

Dirk Mostert ·

Positief sonder simptome is m.i. vals positief. Waarom is sulkes hoegenaamd getoets?

Dirk Mostert ·

Is Covid-19 opgedoen of was daar net getoets met ‘n aantal positiewe uitslae, met of sonder simptome?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.