Talle kantore van inkomstediens gesluit oor staking

Stakende werkers by ‘n kantoor van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID). (Foto: Cosatu/Twitter)

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het klante om verskoning gevra nadat ʼn staking deur werkers Dinsdag tot die sluiting van 18 SAID-takke of doeanekantore gelei het.

Lede van die Vereniging vir Staatsamptenare (VSA) en Nehawu staak nadat hulle die R70 miljoen vir basiese verhogings verwerp het.

Die inkomstediens sê hy is nie verantwoordelik vir sy eie befondsing nie en is afhanklik van die toewysing wat die nasionale tesourie doen.

Volgens die SAID is vakbonde se eis van ʼn verhoging van inflasie (5%) plus nog 7% bloot onbekostigbaar.

“Die SAID het begrip vir die finansiële uitdagings wat veroorsaak word deur stygende voedsel- en brandstofpryse en ander noodsaaklike dienste. Die situasie raak die meeste Suid-Afrikaners, ook werkers van die inkomstediens,” lui ʼn verklaring van die instelling.

Die inkomstediens sê hy respekteer werkers se reg om binne die raamwerk van die wet te staak, terwyl hy terselfdertyd stappe doen om aan sy mandaat te voldoen en belastingbetalers en handelaars te bedien. Stakende werkers sal dus nie betaal word nie vir die dae wanneer hulle nie by die werk is nie.

Volgens die SAID was daar minimale ontwrigting aan sy dienste. “Hoewel sommige takke moes sluit weens die afwesigheid van werkers, het belastingbetalers voortgegaan om deur ʼn wye verskeidenheid aanlyn dienste in verbinding met die organisasie te tree.

“Die SAID het die meeste afsprake reeds voor die aanvang van die optrede herskeduleer.”

Die instelling het ʼn beroep op mense gedoen om eerder nie na ʼn SAID-kantoor te gaan nie en het stakende werkers gevra om vreedsaam te betoog en alle reëls oor protesoptogte na te kom.

“Die SAID was deursigtig oor sy finansiële posisie en bereidwilligheid om met vakbondleiers te vergader om die geskil te besleg. Die SAID het alles in sy vermoë en binne die raamwerk van beskikbare geld gedoen om sy aanbod aan vakbonde te verbreed. Dit staan steeds.”

Die inkomstediens sê ook hy is steeds bereid om met vakbonde te vergader.

Hierdie takke en doeanekantore is gesluit:

Gauteng

  • Edenvale
  • Benoni
  • Randfontein
  • Springs
  • Boksburg

KwaZulu-Natal

  • Richardsbaai
  • Pietermaritzburg
  • Durban

Wes-Kaap

  • Kaapstad
  • Mitchells Plain
  • Paarl
  • Beaufort-Wes
  • Bellville

Mpumalanga

  • Mbombela

Oos-Kaap

  • Mthatha
  • Uitenhage
  • Oos-Londen

Noord-Kaap, Vrystaat

  • Upington
  • Qachas (grenspos)

Limpopo

  • Sibaza
  • Giyani

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

My siening ·

En so trek SARS RENTE OP MY EN ANDER WAT GELD MOET TERUG KRY TERWYL WERKERS ONS DEMOKRATIESE REG BY MENSE WEG VAT EN CYREL SIT EN DOEN NIKS EN HOOR NIKS EN VOEL NIKS!!

Henry ·

Raak ontslae van die unies. Dat sal daar nie so baie stakens wees nie. Wat die werkers nie besef nie is dat die unie se leiers vol salaris kry terwyl die werkers so geld verloor.

Anel ·

Sovêr my kennis strek, is die SAID mos ook staat? Hoe kan hulle meer vra as wat alle staatsamptenare kry? Raak ontslae van die unies, dan sal julle maandeliks ook meer geld hê. Hulle verhoog elke jaar hul premies en die mense betaal maar. Die spul sit lekker dik daar in. Net jammer die mense wat hulle daar hou is nie so skerp om te sien wat regtig aan die gang is nie. Maar nou ja, as jy nie jou sin kry nie, dan staak jy. Hulle kry almal, elke einde van die maand ‘n salaris. Daar is menigtes wat maar te dankbaar sal wees vir daardie werk. Verder leef ons mos lekker en sommer bo ons inkomste. Geen voorsienning word gemaak. So ons staak maar vir meer! Gee nie om wie skade lei nie.

domheks ·

As hulle so fluks was om te werk soos wat hulle fluks is om te toi-toi…

Korrelkop ·

Nou verstaan ek hoekom ek steeds op my uitbetaling wag!

henndrik ·

Ek sal graag wil weet – hoeveel ander mense het ook skielik kennis gekry dat ‘n vorige belasting opgawe nou ge-oudit word en jou terugbetaling dus nie nou kan gebeur nie. Ek is seker ek is nie die enigste persoon nie en ek reken dit is die SARS werkers wat belasting betalers gyselaar hou om druk op SARS te sit vir ‘n beter verhoging – dit is dieselfde was Eskom onlangs gedoen het

Christine ·

Ons kry almal swaar. Julle het nog werk, spul ondankbare kaders.

Ontnugterde senior ·

Dis maar net die begin want Eskom werkers het mos hulle sin gekry. Al die ander staatsdeptemente gaan nog hulle voorbeeld volg. Ek wag ook vir terugbetaling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.