Medelye stroom in ná dood van ervare vlieënier

Howard Betts het die Skyleader 600 self na Suid-Afrika gevlieg. (Foto: Facebook)

Talle boodskappe van medelye is betuig ná die dood van Howard Betts, ʼn vlieënier wat Woensdag in ʼn vliegongeluk by Knoppieslaagte in die Centurion-omgewing gesterf het.

“Stertwinde vir altyd, my vriend,” lui een van die boodskappe.

Die ongeluk het omstreeks 07:40 by die Eagles Creek-vliegveld langs die N14 plaasgevind.

Kyle van Reenen, woordvoerder van die nooddiens Emer-G-Med, het vroeër gesê paramedici het die vliegtuig in ʼn rivier aangetref. “Die vlieënier was die enigste insittende en paramedici het hom by hul aankoms dood verklaar.”

Armand Greyvenstein, eienaar van Eagle’s Creek Aviation Estate, sê Betts was ʼn ervare vlieënier met jare se ondervinding. Hy het ʼn vastevlerk- en helikopterlisensie gehad en het die Skyleader 600-vliegtuig wat in die ongeluk betrokke was, self in die Tsjeggiese Republiek gaan haal en oor Afrika daarmee terug na Suid-Afrika gevlieg.

Howard was ook die voorsitter van die Eagle’s Creek-landgoed se huurderskomitee.

Howard Betts. (Foto: Betts Taylor Townsend)

Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) het intussen sy ondersoek op die toneel waar die vliegtuig neergestort het, afgehandel.

“Dit is ʼn moeilike en traumatiese tyd vir almal,” het Greyvenstein gesê.

Betts, ʼn sakeman van Johannesburg, was voorsitter van die konstruksiebestuursmaatskappy Betts Townsend Taylor, wat projekte oor die vasteland heen bestuur. Hy het die onderneming in 1995 op die been gebring.

Sisa Majola, woordvoerder van die BLO, het vroeër gesê die vliegtuig het groot skade opgedoen en die owerheid sal binne 30 dae ʼn voorlopige verslag oor die ongeluk bekend maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Spook ·

Jy jaag nou spoke op. ZU registrasies is net so veilig soos enige ZS registrasie. Moet eerder nie probeer terugdraai aanloopbaan toe nadat jy ‘n enjinstaking gehad het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.