Talle vrae ná MKP glo handtekeninge vervals

MK-party (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Indien die uMkhonto weSizwe-party (MKP) werklik duisende handtekeninge vervals het om vir vanjaar se verkiesing te kon registreer, soos nou beweer word, is daar verskeie vrae wat kiesers hulleself ’n maand voor die verkiesing moet afvra.

Roland Henwood, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Pretoria, sê die bewerings “sê baie” van die MKP én die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), sou daar enige waarheid steek in die verdoemende bewerings dat die party duisende handtekeninge vervals het.

“Dit wys dat die MKP ’n party is wat inherent onbetroubaar is, want hy is besig om op ’n oneerlike manier aan die verkiesing deel te neem.”

Rapport het Sondag berig ’n voormalige senior amptenaar van die MKP beweer dat hy in Februarie vanjaar ’n span van 20 aangestel het om handtekeninge te vervals nadat die OVK dié party se aanvanklike aansoek om registrasie afgekeur het.

Lennox Ntsodo beweer in ’n verklaring, wat verlede week by die Wes-Kaapse polisie ingedien is, dat hy en sy span die name, ID-nommers en selfoonnommers van werksoekers op ’n databasis vir werksoekers gebruik het om sogenaamde ondersteunerslyste op te stel.

Verslaggewers van Rapport het 15 van diegene op die MKP se beweerde ondersteunerslyste gebel. Altesaam 14 het aangedui dat hulle nóóit ’n MKP-ondersteunerslys onderteken het nie.

Henwood sê dié verdoemende bewerings oor die MKP – ’n politieke party wat ’n wesenlike invloed op die uitslag van vanjaar se verkiesing kan hê – so kort voor die verkiesing wek twyfel oor die OVK én die verkiesing.

“Hoe kan dit aanvaar word wanneer ’n party op ’n oneerlike en korrupte manier deelneem aan die verkiesing en moontlik die vierde grootste party in die parlement word? Indien hierdie bewerings waar is, behoort hierdie party nie te mag deelneem nie,” sê Henwood.

“Dit is bedrog.”

(Foto: MK-party/X)

Dit is in hierdie stadium nog onduidelik of die MKP toegelaat gaan word om aan die verkiesing deel te neem, sou daar waarheid steek in die bewerings. Dit is ook onduidelik of die bewerings enige invloed op kiesdag gaan hê.

Die OVK het Maandag by navraag aan Maroela Media gesê hy is bewus van die bewerings teen die MKP.

“Die kommissie doen ʼn beroep op die betrokke wetstoepassingsowerhede om die ondersoeke te bespoedig ten einde die waarheid vas te stel. ’n Vinnige ondersoek is noodsaaklik vir die uitvoering van vrye en regverdige verkiesings.”

Die OVK vereis sowat 50 000 handtekeninge vir nuwe politieke partye om vir deelname aan die verkiesing te kwalifiseer. Onafhanklike kandidate benodig 1 000 handtekeninge om op die stembrief te verskyn.

Hoekom dié vereiste vir handtekeninge, het Maroela Media Maandag aan Henwood gevra.

“Dit is die besluit wat geneem is,” was sy antwoord.

Hy verduidelik dat 50 000 handtekeninge in die konteks van 27 miljoen geregistreerde kiesers betreklik min is, hoewel dit steeds beteken dat sekere politieke partye – wat nie daaraan kon voldoen nie – nié aan vanjaar se verkiesing mag deelneem nie.

“Dit is ’n beginsel wat neergelê is en ’n politieke party behoort daaraan te voldoen. In daardie sin is hierdie handtekeninge baie belangrik.”

(Foto: EMMANUEL CROSET / AFP)

Nagaan van handtekeninge

Henwood gee egter toe dat die OVK nie elke handtekening op elke ondersteunerslys kan nagaan nie.

’n Woordvoerder van die OVK sê die kommissie kan wel die ID-nommers van elkeen op die lyste nagaan en bevestig dat dit aan ’n Suid-Afrikaner behoort.

En dít is presies wat die OVK gedoen het.

“Die kommissie bevestig dat die handtekeningportaal van die kandidaatnominasiestelsel geverifieer het of die ID-nommers wat ingedien is van geregistreerde burgers van die republiek was. Met ander woorde, dit het behels dat vasgestel word of die persoon ’n burger is, lewend is en op die kieserslys geregistreer is.”

Volgens die woordvoerder het die kommissie reeds tydens die parlementêre proses, waaronder parlementêre debatte oor die institusionalisering van die handtekeningvereiste, aangedui dat dit onmoontlik sou wees om vas te stel of die handtekeninge wat aangebied word, wel geloofwaardig is.

“Dit moet mens aanvaar,” sê Henwood. “Handtekeninge is nie iets wat op ’n sentrale databasis geregistreer is en gekontroleer word nie.”

Hy sê dit is dus onmoontlik om vas te stel of ander nuwe partye ook moontlik kortpaaie geneem het wat die registrasie van hul partye betref.

Henwood meen egter die OVK sal die registrasie van partye in die toekoms op ’n ander wyse moet hanteer.

“Intussen sal die OVK moet optree,” sê hy.

“Die vraag is egter wanneer en hoe. Die tydlyn vir die verkiesing is reeds baie kort en daar kan nie ’n politieke oplossing vir ’n regsprobleem geskep word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Manie ·

Kyk maar gerus eers of die kwêvoël nie dalk onlangs geskors is nie.

daarsdit ·

Hier is te veel verkiesbare patye is SA, ons moet terug beweeg na 2-3 partye soos al die ander lande, dan sal dinge dalk beter gaan.

Marieta ·

Wat kan ons nou anders van Zuma en sy manne verwag? Hy het mos nou al gewys waartoe hy in staat is.

Kiepie ·

Soveel vrae! Onder andere, MKP is dan net nou die dag gestig, hoekom is daar al reeds “voormalige senior amptenare” wat ‘n grudge het teen die party? Duidelik het hy die inligting slegs bekend gemaak omdat hy ‘n punt te bewys het teen hulle want hy erken dan self hy het die opdrag vir die bedrog gegee!
En, dink enige iemand regtig dat kiesers wat so opgewonde is oor Zuma se terugkeur hul enigsins gaan steur daaraan dat hy mbv nog ‘n bedrogspul toelating gekry het? Droom verder.

Oosieoos ·

Wat anders kan jy verwag van a ou wat all oor en oor bewys het hoe skelm hy is. Gaan my verstand tebowe hoekom die wiel van die gereg so stadig draai met die wat al jare terug in die tronk moes wees of dalk wag hulle dat hy te oud is

Pawiljoen Rot ·

We are doomed. Hierdie is lankal nie meer ‘n wêreld waar “rule of law” regeer nie. Ons lewe nou in ‘n wêreld wat toegewyd is aan “the law of the jungle”.

GWS ·

Dit is geensins ‘n verrassing nie, hulle is tot enigiets in staat!

Hendrik ·

As dit suiwer gaan oor integriteit dan moet die huidige regering dadelik die trekpas kry, want hul bestaan geheel en al 30 jaar in kriminaliteit.

Michael ·

Ek het nog nooit n eerlike politieke party in sa gesien nie die NP ingesluit

Papsak ·

Geen verrassing nie hulle bly skelm en daar is hopeloos teveel partye raak ontslae van die klein partye ja hulle sal stem vervals om Zuma in te kry ???????

Anel ·

Verwag niks minder van die ou skelm nie. Enigste land in die wêreld wasr ‘n afgesette president weer kan staan om verkies te word. Net soos ‘n weggejaagde polisie kommissaris, wat nooit ‘n polisieman was nie, in ‘n höer pos, minister, aangestel word nie.
Zuma was dan op die randjie van die dood, wat se siekte het hy gehad waarvan hy so wonderbaarlik genees het? Sy een woordvoerder het dan gesê hy is springlewendig!!!

Yvonne ·

Hoe dan anders….ek sou verras wees as dit op n eerlike wyse gedoen was…tragies tragies

Theresa ·

Sou hulle gediskwalifiseer word, gaan ons onteenseglik n herhaling van Julie-onluste ervaar, wat waarskynlik meer intens gaan wees..

Bolandse Nooi ·

@Theresa, ek stem saam met jou. En dit is hartseer dat ons uit VREES vir die optrede van die massa Zulu’s moet toelaat dat ‘n veroordeelde krimineel die kans gegun word om weer toe te tree tot die politiek. Dit is soos die Bloukransmoorde van 1838 oor-en-oor-en-oor beleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.