Talle vrae na raaiselmoord op ondersoeker

Lucas Klopper (45) is Sondag doodgeskiet. (Foto: Facebook)

Daar is heelwat vrae nadat ʼn private ondersoeker van Birchleigh in Kemptonpark Sondag oënskynlik koelbloedig by ʼn winkelsentrum in Van Riebeeckpark doodgeskiet is.

Lucas Klopper (45) was Sondagoggend by die apteek in die Nic Meyer-sentrum in dié buurt en het omstreeks 12:12 die parkeerterrein in sy voertuig verlaat.

Hy het glo agter ʼn ander voertuig gewag om verder te ry.

Sers. Barbara Ferreira, woordvoerder van die Norkem Park-polisie, sê drie mans in ʼn Ford Fiesta het voor dié voertuig stilgehou. Een van die mans het uitgeklim, drie skote op Klopper geskiet en terug in die Fiesta geklim waarna die drie weggery het.

Volgens Ferreira is niks van Klopper se besittings gesteel nie. Dit blyk ook nie dat die aanval ʼn poging tot ʼn kaping was nie.

Klopper is in ʼn bedenklike toestand na die Arwyp-hospitaal gehaas waar hy later die aand gesterf het.

Ferreira sê die moontlikheid dat die moord op Klopper verband hou met een van sy private ondersoeke, maak deel uit van die polisieondersoek.

Johann Jacobs, ʼn vriend van Klopper, het hom as ʼn “stil man met ʼn goeie hart” bestempel. Hy was ʼn geesdriftige gimnasium-besoeker wat onlangs sy eie private ondersoekonderneming op die been gebring het.

Tientalle ander boodskappe van medelye het intussen ook ingestroom.

IRS Forensic Investigations het in ʼn boodskap gesê hoewel hulle Klopper nie self geken het nie, was hy deel van ʼn gemeenskap van private ondersoekers en sy “tragiese moord het die gemeenskap geskok”.

“Hoewel ons nie weet wat die rede vir Lucas se moord is en of dit met sy werk verband gehou het nie, weet ons dat misdaad buite beheer is. Openbare en private wetstoepassers sal nie terugdeins nie en sal beslis ook nie stilgemaak word nie. Ons innige medelye aan die familie, vriende en kollegas van Lucas Klopper.”

  • Enigiemand met inligting oor die voorval kan kapt. JB Jones by 011 972 0708 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frans ·

Misdaad in Suid Afrika is buite beheer en wat tans gebeur is gelyk aan die dae van Al Capone tussen 1922 n 1931.Na die jare 1921 tot 1933 is soms na verwys as die ‘wettelose jare’ en dit dalk ook ‘n goeie beskrywing van die jare wat die ANC veral onder Zuma aanbewind was.
My innigste simpatie met die familie van die oorledene wetende dat woorde nie jul pyn en lyding ongedaan kan maak nie.

Persheks Adri ·

Ek vermoed dit het te doen gehad met sy werk en iemand het te veel geweet en moes hom stil kry. Só onnodig die sinnelose moorde! Nog so jonk…

Innige simpatie met die familie en naasbestaandes mag God julle dra in die moeilike tyd!

Yvonne ·

Tragiese gebeure….al die kosbare bloed wat so gestort word roep ten hemele

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.