Talle vrae ná twee moorde Weskus ruk

Jose Camacho (77) se liggaam is verlede week op sy verjaardag in ʼn veekraal aangetref. (Foto: Verskaf)

ʼn Varkboer en sakeman van die Weskus se liggaam is verlede week op sy verjaardag in ʼn veekraal, slegs enkele meter van sy huis, aangetref. Die bure het op 1 Mei op Jose Camacho (77) se liggaam afgekom nadat hy nie sy selfoon geantwoord het nie.

Dirk Gallowitz, ʼn lid van die plaaswag in die Vredenburg-omgewing, meen Camacho is vermoedelik Dinsdagaand 30 April reeds op sy kleinhoewe, Eenzaamheid, buite Vredenburg vermoor.

“Hy het ʼn bakkie by die bure gekoop en moes nog papiere teken. Die deure van sy huis het oopgestaan en hulle [die bure] het verskeie kere na hom geroep, maar hy het nie geantwoord nie,” sê Gallowitz.

Volgens sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, het Camacho beserings aan sy kop gehad en verskeie steekwonde aan sy rug. Paramedici het hom op die toneel dood verklaar.

Niemand is nog in verband met die moord aangekeer nie. Die motief vorm ook deel van die polisieondersoek. Met Gallowitz se besoek aan die kleinhoewe omstreeks 18:00 op aand van 1 Mei was die polisie se forensiese ondersoekeenheid steeds besig om die huis te fynkam vir leidrade.

Lino Camacho, Jose se seun, het aan Maroela Media gesê dat sy pa se vee en vuurwapens ook gesteel is. Die familie was ook besonder ontsteld oor bespiegelinge op sosiale media oor die moord.

Lino sê sy pa het vir 15 jaar uitgeblink in veerpyltjies en was ʼn stampkar-entoesias.

Nog ʼn moord kort tevore

Clint Christians (57) is op 13 April vermoor op ʼn kleinhoewe naby Eenzaamheid. (Foto: Verskaf)

Intussen is die Weskus-gemeenskap steeds in skok oor die moord op Clint Christians. Die 57-jarige Christians is op 13 April vermoor op ʼn kleinhoewe naby Eenzaamheid.

Clint en sy vrou, Lisle (55), het die Saterdagmiddag by hul huis op die kleinhoewe Besaansklip aangekom en besef hul huis is geplunder.

Die vensters is uitgekap, die deure afgebreek en vensterrame is uitgeruk. Hul stoor is oopgebeek, slotte is afgekap en daar is tot gate in die plafon gemaak.

Die egpaar is die huis binne en het van vertrek tot vertrek gestap om die skade te bepaal. Buite het hulle twee mans, glo in hul laat 30’s, opgemerk. Een van die mans het ʼn skroewedraaier by hom gehad en die ander ʼn panga.

Christians het op hulle geskree om pad te gee, waarna die egpaar glo aangeval is.

Christians het verskeie steekwonde aan sy rug gehad. Lisle het ʼn wond op haar skouerblad opgedoen, waarvoor sy steke ontvang het.

Sommige inwoners voer aan Camacho se moordenaars is dieselfde mans wat Christians vermoor het, omdat die werkswyse volgens hulle strook. Volgens Twigg sal die uitslae van die DNS-toetse moontlik meer lig op die sake kan werp.

Gallowitz het bevestig dat Camacho en Christians glo goeie vriende was.

ʼn Inwoner, wat gevra het om nie by name genoem te word nie, het reeds ʼn beskrywing van ʼn moontlike verdagte aan die polisie verskaf. Dit is glo ʼn lang man in sy laat 30’s met ʼn glasoog, wat na bewering in ʼn nedersetting naby die kleinhoewe woon.

Die polisie doen ʼn beroep op enigiemand met inligting oor hierdie moorde om die ondersoekbeampte, Ronaldo Joubert, by 079 894 1263 of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.