‘Te veel seksuele geweld bly ongestraf’

(Argieffoto)

Deur Tania Broughton, GroundUp

ʼn Saak wat belangrike vrae stel ​​oor hoe Suid-Afrikaanse howe op sake van seksuele geweld en verkragting reageer, word vandeesweek deur die appèlhof aangehoor.

Die appèlaansoek is deur die direkteur van openbare vervolging in die Oos-Kaap teen ʼn hooggeregshofuitspraak ingedien wat die skuldigbevinding van Loyisa Coko ter syde gestel het. Coko is in die streekhof skuldig bevind aan die verkragting van sy vriendin.

Getuienis voor die streekhof was dat die vriendin uitdruklik “nee” gesê het toe Coko omgang wou hê  en dat sy selfs gehuil en hom van haar probeer afstoot het.

Die streekhof het Coko skuldig bevind en sewe jaar tronkstraf opgelê.

Die skuldigbevinding en vonnis is egter op appèl omgekeer nadat die hooggeregshof beslis het dat Coko nie bedoel het om sy vriendin te verkrag nie. Coko en die vriendin was twee weke lank in ʼn romantiese verhouding voordat hy haar glo verkrag het.

Die hooggeregshof het bevind dat hy verkeerdelik geglo het dat sy ingestem het tot gemeenskap omdat sy aan ander vorme van intimiteit deelgeneem het.

Die Inisiatief vir Strategiese Litigasie in Afrika (ISLA), wat deur die Sentrum vir Toegepaste Regstudies (CALS) verteenwoordig word, het as vriend van die hof (amicus curiae) by die verrigtinge aangesluit, met die betoog dat die hooggeregshof se bevindings in wese die stem van die slagoffer negeer en op sekere “verkragtingsmites” gesteun het.

CALS het gesê die aangeleentheid is van kritieke belang om bloot te lê hoe Suid-Afrikaanse howe steeds versuim om sake van geweld in intieme verhoudings te bereg op ʼn manier wat strook met die land se grondwetlike waardes en met internasionale menseregtenorme.

“Hoewel verkragting wat deur vroue se mans, kêrels of voormalige lewensmaat gepleeg word die algemeenste vorm van seksuele geweld is, bereik hierdie sake selde die howe. Die slagoffers van seksuele geweld in intieme verhoudings word gekonfronteer met ʼn gebrek aan bewustheid en diskriminerende houdings wat deur polisie en aanklaers gehandhaaf word, met die gevolg dat hul sake selde tot verhoor voortgaan,” het CALS gesê.

“Wanneer sake wel die hof bereik, is dit nie ongewoon dat regters ook nie die dinamika van hierdie vorm van verkragting verstaan ​​nie. Ons word dan met ʼn hoë vlak van straffeloosheid vir seksuele geweld gelaat, hoewel dit ʼn groot segment van vroue in Suid-Afrika raak.”

Volgens CALS vereis ʼn benadering volgens riglyne vir menseregte dat howe alle vorme van seksuele geweld verstaan, waaronder verkragting in romantiese verhoudings, en dat hulle sake in konteks ondersoek sodat daar nie tydens die hofproses teen slagoffers gediskrimineer word nie.

“Howe moet ook die stemme en ervarings van slagoffers sentreer, en dit vermy om van verkragtingsmites en stereotipes gebruik te maak, wat dan slagoffers se ervarings as minder ernstig afmaak en bloot die perspektiewe van oortreders versterk.”

Sheena Swemmer, hoof van geslagsgeregtigheid by CALS, sê die hooggeregshof se bevindinge het geen “regverdigbare regsgrondslag” nie.

“Die hof het versuim om ʼn kontekstuele ontleding van instemming in die saak uit te voer, wat gelei het tot ʼn gebrekkige uitspraak met ernstige gevolge as dit onbetwis gelaat word. Dit plaas onnodige klem op die slagoffer se optrede, pleks van dié van die oortreder.”

CALS se regsverteenwoordiger, adv. Loyisa Makapela, sê die hooggeregshof het versuim om die slagoffer se sterk aandrang om nie seksueel te verkeer nie – wat sy verbaal en in haar lyftaal gekommunikeer het – in ag te neem.

Die hooggeregshof het volgens Makapela ook versuim om die streekhof se klem op haar maagdelikheid in berekening te bring en omdat die hof – aldus die uitspraak – dan die gevaar loop om “by kwessies van seksuele moraliteit” betrek te word.

“Die hooggeregshof het versuim om te erken dat dit in werklikheid ʼn verdere skending van die slagoffer se reg op veiligheid, beheer oor haar liggaam en haar waardigheid was, aangesien die herinnering van haar eerste seksuele interaksie iets is wat ander toekomstige interaksies gaan versuur,” voer Makapela aan.

Verskeie ander instellings, waaronder die Women’s Legal Centre en die kommissie vir geslagsgelykheid, het ook gevra om as vriende van die hof by die saak betrokke te wees.

Die saak word Dinsdag aangehoor.

  • Die berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning op Maroela Media gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andre ·

…Gann kyk maar, die Staatsaanklaer het nie sy werk gedoen nie, of was gewoon onbevoeg,soos meeste aanklaers deesdae

Wit Leeu ·

Die hele land en als wat hulle doen is ONBEVOEG. So gaan kla by iemand wat sal luisetr !

Wit Leeu ·

Die hele land en als wat hulle doen is ONBEVOEG. So gaan kla by iemand wat sal luister !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.