Tekort aan geld dreig om kinderbeskermingsdienste te knak

Die Kinderwelsynsvereniging het Badisa se kantoor in Wynberg oorgeneem sedert die organisasie genoodsaak was om drie kantore te sluit. (Foto: Marecia Damons/GroundUp)

Deur Marecia Damons, GroundUp

Finansiering vir kinderbeskermingsprogramme in die Wes-Kaap hou nie by met inflasie nie en dit beteken dat die siklus van geweld wat kinders moet verduur,bloot net gaan voortduur. Organisasies wat maatskaplike dienste lewer sê hulle word gedwing om selfs sommige kantore te sluit in die lig van al hoe minder staatsfinansiering.

Organisasies in die Wes-Kaapse Kinderbeskermingsalliansie sê die gebrek aan genoeg geld en subsidies van die staat gaan die siklus van geweld laat voortduur, gemeenskapsveiligheid ondermyn en hul strategieë om in te haal ná die Covid-19-pandemie verydel.

Volgens die alliansie wat 13 organisasies verteenwoordig, het subsidies vir kinderbeskermingsdienste in die Wes-Kaap die afgelope vyf jaar op dieselfde vlak gebly.

“Weens stygende koste en inflasie beteken dit die subsidie is eintlik met tussen 20% en 25% gesny.”

Monique Mortlock-Malgas, woordvoerder van die LUR van maatskaplike ontwikkeling in die provinsie, sê kinderbeskermingsprogramme ontvang R200 miljoen, vergeleke met die R164 miljoen van vyf jaar gelede.

Daar is egter verskeie redes waarom dit nie met inflasie byhou nie.

“Die impak van ʼn sukkelende ekonomie, nasionale loonverhogings in die openbare sektor en die verskuiwing van finansiering na rampverligtingspogings het meegebring dat die departement nie die befondsingsbedrag kon verhoog nie,” sê Mortlock-Malgas.

Een van die gevolge hiervan is dat organisasies nou nie meer mededingende salarisse aan maatskaplike werkers kan bied nie.

“ʼn Maatskaplike werker sal begin werk met ʼn kind wat trauma ervaar het, dan kry die werker ʼn ander werk en gaan net,” sê Georeen van Rensburg, provinsiale direkteur van Kinderwelsyn Suid-Afrika.

Dit, sê Van Rensburg, veroorsaak dat gemeenskappe vertroue in maatskaplike werkers verloor, veral in landelike gebiede.

Kinderwelsyn gebruik sowat 25% van die staatsubsidie vir administratiewe uitgawes soos vervoer en verblyf. Namate geld minder word moes Kinderwelsyn Suid-Afrika aansienlike besnoeiings aanbring, soos om maatskaplike werkers se reise na afgeleë gebiede te beperk.

Ronel van Zyl, direkteur van maatskaplikediensteprogramme by Badisa, sê dié organisasie was die afgelope drie jaar genoodsaak om drie kantore te sluit. Verskeie sentrums wat spesifieke dienste aan bejaardes gebied het, het ook gesluit. Badisa het verskeie skenkers verloor en sukkel sedert die koronaviruspandemie om finansieel te herstel.

Badisa verskaf  ʼn reeks dienste aan kinders, bejaardes en gestremdes, asook dwelmmisbruikherstelprogramme in die Wes-, Noord- en Oos-Kaap.

“Terwyl ons ʼn baie goeie werksverhouding met die departement het, is die sektor op die breekpunt. Ons het ʼn volhoubare befondsingsmodel nodig.”

Marguerite Holtzhausen, direkteur van The Trauma Centre in Kaapstad, sê hulle het tans net twee maatskaplike hulpwerkers, vergeleke met ses in 2021.

“Weens die klein verhoging in subsidies het ons ʼn baie hoë omset. Sedert 2020 is ons twee maatskaplikewerkposte deur ses verskillende mense gevul.”

Die organisasie verskaf psigo-maatskaplike dienste aan kinders, hoofsaaklik op die Kaapse Vlakte.

Holtzhausen sê hulle hoef nog nie dienste te verminder nie, maar die organisasie sukkel om al sy uitgawes te dek en dit is boonop “moeilik om alternatiewe finansiering te vind om die organisasie uit die skuld te hou”.

Nicolette van der Walt, nasionale bestuurder van kinderbeskerming by ACVV, sê hulle kon die afgelope vyf jaar nie vir personeel salarisverhogings aanbied nie.

Van Der Walt sê die subsidie ​​vir ʼn maatskaplike werker in ʼn organisasie sonder winsbejag is nie “die helfte van wat ʼn maatskaplike werker by die staat verdien” nie.

“Ons maatskaplike hulpwerkers verdien sowat R7 000 per maand. Hoe is mense veronderstel om daarop te oorleef?

“As die regering ons ten minste ʼn inflasie-verwante verhoging gee, kan ons ook ons ​​personeel se salarisse verhoog,” sê sy.

Mortlock-Malgas sê die departement is bewus van die probleme waarmee die kinderbeskermingsorganisasies te kampe het.

“Weens ons beperkte hulpbronne kan ons as regering nie hierdie belangrike sektor alleen ondersteun nie.”

Die departement sal vandeesmaand met die sektor vergader in ʼn poging om volhoubare oplossings vir die krisis te vind.

  • Hierdie berig is oorspronklik deur GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Dink net as die kar koop handboek afgaan na R500000 en R200000 van al die Ministers en parlement lede gaan na kinderbeskerm projekte? Sal dit gebeur…..nah!

Amelia ·

Gee van die kindertoelae vir kinderhuise sowel as die “covic toelaag” hoeveel kry dit maar ken n ie woord werk nie het nog nooit eers probeer werk nie dit sal defnitief genoeg wees om ou mense te help en ook die met gebrek veral agv plaasaanvalle

Nici ·

Hoe is die president en al sy regerings amptenare veronderstel om gemaklik en in luukse te lewe as ons aan welsynwerkers, polisiemanne en verpleegsters leefbare salarisse moet betaal? Kry tog jul prioriteite reg!

Saartjievandiebosveld ·

Hulle het geen geweet nie…so hulle sal Baie lekker slaap….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.