Teoloog, skrywer Jaap Durand sterf

Prof. Jaap Durand is as legende by UWK bestempel. Hy is Maandag dood. (Foto: UWK)

Die vermaarde akademikus, teoloog, skrywer, struggle-aktivis en die eerste viserektor van die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK), Jaap Durand, is Maandag in die ouderdom van 87 by sy huis in ʼn aftreeoord buite Stellenbosch dood.

Durand het dapper teen die apartheidsregime gestry en het ʼn leidende rol gespeel in die oprig van sommige van UWK se mees historiese geboue, lui ʼn huldeblyk van dié instelling.

Durand is op 5 Junie 1934 in die Vrystaat gebore en het filosofie en teologie aan die Universiteit van die Vrystaat studeer. Hy het sy studie aan die Stellenbosch Universiteit voortgesit en daarna aan die Vrije Universiteit in Amsterdam.

Hy het sy loopbaan as predikant in die Transkei begin voordat hy na die akademie oorgeskakel het en die posisie van professor van Sistematiese Teologie by die UWK opgeneem het. Hy is in 1981 as adjunkvisekanselier aangewys.

Durand is in 1982 uit die amp van predikant ontslaan weens sy betrokkenheid by die Belydenis van Belhar en sy fel kritiek teen apartheid. Die NG Kerk het sy amp in 2019 egter herbevestig.

“Prof. Durand was ʼn legende by UWK. Heelwat van die fisieke landskap by die universiteit is sy nalatenskap, omdat hy verantwoordelik was vir die beplanning daarvan.

“Ons betreur sy heengaan en vier sy groot bydrae tot die UWK en sy beginselvaste teenstand teen apartheid,” sê prof. Tyrone Pretorius, UWK-rektor en vise-kanselier.

Durand het die apartheidsregering so ver gekry om geld aan infrastruktuur by die universiteit, wat veronderstel was om beperkte opleiding aan bruin mense te gee, te bestee. UWK het die owerhede egter uitgedaag, sy deure vir alle studente oopgemaak en die “intellektuele tuiste van linksgesindes geword”.

In die stormagtige 1980’s het Durand saam met senior UWK-personeel soos prof. Jakes Gerwel en prof. Richard van der Ross – en sowat 4 000 studente – na die Bellville-polisiestasie opgeruk om die vrylating van studente wat aangehou is, te eis.

Toe die UWK se biblioteek gebou is, het Durand in die geheim die argitek gevra om ʼn glassteen in die atrium op die grondvloer in te bou. Die biblioteek is amptelik in 1989 geopen. “Dit was ʼn parodie van wat by die Voortrekkermonument gebeur het,” het Durand in 2019 tydens ʼn besoek aan die universiteit gesê.

Op 16 Desember, Geloftedag, skyn ʼn ligstraal om presies 12:00 op die senotaaf van die monument. Durand het verduidelik dat hy wou hê die lig uit die biblioteekdak moet in die donker ouditorium in die kelder skyn om die Soweto-opstand van 16 Junie 1976 te gedenk, asook die UWK-studente wat teen apartheid geveg het. Hy het dié huldeblyk meer as 30 jaar lank geheim gehou.

Prof. Jaap Durand, prof. Jakes Gerwel en prof. Richard van der Ross (voor) tydens die optog na die Bellville-polisiestasie. (Foto: UWK)

Die skrywer Dana Snyman bestempel Durand in ʼn huldeblyk as ʼn “merkwaardige man”.

“ʼn Jaar of so gelede was ek bevoorreg om ʼn uur of twee in sy geselskap deur te bring. Eintlik het ek net sit en luister – nie dat hy ʼn breedsprakige man was nie. Maar na hom kon jy luister,” skryf Snyman.

“Later kon ek ook nie die geleentheid laat verbygaan om ʼn foto van sy lessenaarstoel te neem nie. ʼn  Stoel wat ʼn duisend-en-tien stories vertel, van sit en dink en skryf en skryf… Rus in vrede, prof. Jaap. Sterkte aan sy geliefdes en familie.”

Durand is verlede jaar ook met die invloedryke Ereburgerskaptoekenning vir sy voortreflike bydrae tot die gemeenskap van Stellenbosch en die breër Suid-Afrikaanse samelewing vereer. Hy is geloof vir sy bydrae in teologiese en akademiese kringe, sy rol by die UWK en sy werk om inklusiewe ruimtes vir studente en akademici te skep.

Volgens die elektroniese Christelike Kernensiklopedie is die Andrew Murray-Desmond Tutuprys in 2019 aan Durand toegeken vir sy boek In Awesome Wonder. Faith and Doubt: A Continual Dynamic Tension. Die volgende jaar is ʼn nuwe toekenning deur die Andrew Murray-prysfonds aan sy naam verbind: Die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vir eenheid, versoening en geregtigheid.

Durand was ook die skrywer van verskeie boeke wat insluit Dit is amper dag, Evolusie, wetenskap en geloof en Protesstem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leonard ·

‘n Ware legende in ons kerk op die braak Stellenbosch, So bevooreg gewees om as diaken saam met ouderling Prof Jaap Durand in ons Rynse VGK te kon werk . ‘n Opregte omgee mens Rus In vrede sterkte aan die gesin

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.