Ters-eise dán weer uitbetaal

(Foto: Facebook)

Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se tydelike verligtingskema (Ters) sal vanaf volgende week af weer eise uitbetaal.

Die departement van indiensneming en arbeid het Saterdag gesê die uitbetaling van eise sal eerskomende Maandag hervat word.

Dít volg meer as drie weke nadat die uitbetalings van eise gestaak is hangende ʼn ondersoek deur die ouditeur-generaal (OG) na probleme met “stelselintegriteit”.

Die WVF was in dié stadium reeds agterstallig met uitbetalings.

Marsha Bronkhorst, waarnemende kommissaris van die WVF, het nou gesê alle uitstaande betalings van April, Mei en Junie sal Maandag en Dinsdag gedoen word waarna die WVF alle uitstaande betalings vanaf 1 Julie tot 15 Augustus vanaf Woensdag tot Saterdag sal hanteer.

Bronkhorst het egter daarop gewys dat slegs eise waar alle nodige inligting ingedien is, verwerk sal word. Onvolledige eise sal dus outomaties nié verwerk word nie.

Die WVF herinner ook werkgewers en werknemers wat nog nié om Ters-voordele aansoek gedoen het nie daaraan dat aansoeke vir Maart tot einde Mei op 25 September sluit terwyl aansoeke vir Junie op 15 Oktober en aansoeke vir Julie tot 15 September op 30 Oktober sluit.

Die sluitingsdatums het egter geen invloed op eise wat reeds ingedien is nie. Dié eise sal vereffen word sodra al die uitstaande inligting by die WVF ingedien word.

Maroela Media het vroeër berig die regering het verlede maand gespog met die R40 miljard wat hy reeds uitbetaal het in tydelike verligting aan werkers wat deur die afsonderingstydperk geraak word.

Die OG het egter die WVF gewys op die tekortkominge in sy betalingstelsel. Dit sluit in teenstrydighede tussen uitbetalings wat vantevore gedoen is, betalings aan mense wat reeds dood is, minderjariges en selfs gevangenes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.