Theuns Stofberg sterf ná motorongeluk

Theuns Stofberg (Foto: Verskaf)

Die voormalige Springbok-rugbyspeler Theuns Stofberg is oorlede ná die motorongeluk Maandagaand waarin hy ernstige beserings opgedoen het.

“Sy vele beserings was te erg vir sy liggaam om te herstel, en hy is vroeg Woensdagoggend oorlede,” het Stofberg se familie in ʼn verklaring bevestig.

Stofberg word oorleef deur sy vrou, Martie, hul vier kinders, Elni, Theunis, Johan en Anzél, en sewe kleinkinders. Nog geen begrafnisreëlings is getref nie.

Stofberg (68) was Maandagaand op pad terug na sy huis by Koelenhof nadat hy by sy jongste dogter, Anzél Rabie, skoonseun en ses weke oue kleindogter gekuier het vir die middag. Rabie is die aanbieder van die gewilde kykNET-program Anzél in die Boland.

Stofberg was net voor 19:00 op die R304 (Koelenhof-pad), ʼn paar kilometer van sy huis af, in ʼn noodlottige trompop botsing betrokke. Hy was alleen in die motor.

Volgens Stofberg se familie moes hy met meganiese toerusting uit die wrak verwyder word voor hy na ʼn private hospitaal gehaas is. Hy het onder meer frakture in sy ribbes en pelvis, ʼn geperforeerde long en inwendige bloeding opgedoen.

Sy vrou was by hul ander dogter in Kanada en was ná die nuus bekend geword het op pad terug Suid-Afrika toe.

Stofberg het tussen 1976 en 1984 20 toetse in die Springboktrui gespeel en was by verskeie geleenthede kaptein van die span. Hy het ook vir die Westelike Provinsie, Noord-Transvaal en die Vrystaat gespeel en het die voorreg gehad om die Curriebeker saam met al drie unies te kon wen.

Sy eerste toets was in 1976 teen die All Blacks toe hy maar 21 jaar oud was. In sy toetsloopbaan het hy as flank groot agting afgedwing met sy spoed en beweeglikheid en het ses drieë in sy toetsloopbaan gedruk.

Die vrou wat in die botsing dood is, is intussen as Carine Strydom (65) geïdentifiseer. Volgens Netwerk24 is sy en haar man, Theo, die eienaars van die Spar-winkel in Moorreesburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Samuel ·

Dit is baie hartseer nuus. Sterkte en vrede vir sy familielede en vriende. RIV.

ES ·

Sjoe, vreeslik hartseer. Baie sterkte aan sy familie in hulle tyd van beproewing.

Waarnemer ·

My innige simpatie met Theuns se familue.Dit is hartseer,ons was jare terug saam op skool by Dirkie Uys op die Bluff in Durban.Ons was si trots op hom toe hy Springbok kleure gekry het.RIV Theuns.

Karoo ·

So loop die uurglas vir ons almal uit. Sterkte aan byde famielies vir die groot verlies.

Skappie ·

Sterkte aan hierdie gesinne. Mag onse Liewe Heer julle almal styf in Sy arms vashou en julle deur hierdie moeilike tyd dra.

Racheltjie Debeer ·

Innige meegevoel met albei families. DIs bitter hartseer.

Celest ·

Dit is hartseernuus. Een van die fisioterapeute wie ek van lank terug onthou, het saam Theuns fisioterapie studeer aan Kovsies Sterkte aan Sy gesin, familie en vriende, spesiaal aan Anzél Rabie, jammer oor julle groot verkies. Mag die Heilige Gees julle vertroos

Cherokee ·

Simpatie aan beide gesinne. Snaaks eintlik hoe sommige van die kommentators slegs simpatiseer met een van die families. Te lese aan die berig, is die motor waarin die dame van Spar gereis het, absoluut onskuldig aan wat gebeur het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.