Tien organisasies versoek dat OB moet waai

Die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Minstens tien burgerlike organisasies het reeds die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste versoek om Busisiwe Mkhwebane uit haar amp as Openbare Beskermer (OB) te verwyder op grond van die onlangse hofuitsprake teen haar.

Die Active Citizen’s Movement KZN, die Ahmed Kathrada-stigting, die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet, Corruption Watch, Freedom Under Law, die Helen Suzman-stigting, Johannesburg Against Injustice, Right2Know, die Women and Democracy Initiative en die Dullah Omar-instituut UWC het ʼn gesamentlike versoek aan die komitee gerig om op te tree.

“Ons rig hierdie vertoë op grond van die onlangse hofuitsprake oor die optrede van die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, wat sonder enige twyfel getoon het dat sy nie bevoeg is om haar amp te beklee nie, en dat sy nie in staat is om haar amp se gedefinieerde funksies op wetlike wyse uit te voer nie,” het die organisasies in hul vertoë aan die parlement gesê.

“Indien sy nie uit haar amp verwyder word nie, is ons baie bekommerd oor die potensiële verdere skade wat aan Suid-Afrika aangerig kan word. Gevolglik is ons oortuig dat sy uit haar amp verwyder moet word en dat die parlement die nodige maatreëls soos vervat in die Grondwet moet implementeer om hierdie stap te doen.”

Die vertoë sit verder die redes uiteen vir die organisasies se oortuiging oor die kwessie, asook hul voorstel vir die proses wat deur die portefeuljekomitee gevolg moet word.

Die gronde wat in die Grondwet vervat word vir die verwydering van ʼn Openbare Beskermer sluit in wangedrag, onvermoë of onbevoegdheid, ʼn bevinding van so ʼn aard deur ʼn komitee van die nasionale vergadering, of ʼn aanvaarding van ʼn besluit deur die nasionale vergadering vir die verwydering van die betrokke persoon (wat deur twee derdes van die nasionale vergadering aanvaar moet word).

Die organisasies meen die reeks hofuitsprake teen Mkhwebane, insluitend die een oor die saak tussen haar en die Reserwebank, is meer as genoeg rede om haar afdanking te regverdig.

Die hof het beslis sy het haar aan wangedrag skuldig gemaak tot só ʼn mate dat sy 15% van die regskoste uit haar eie sak moet betaal. Mkhwebane het haar tot die Konstitusionele Hof gewend om appèl aan te teken teen die kostebevel, maar haar aansoek was onsuksesvol.

“Dit moet beklemtoon word dat die howe in beginsel huiwerig is om staatsamptenare persoonlik aanspreeklik te hou vir regskoste wat aangegaan word in hul amptelike hoedanigheid,” het die organisasies in hul vertoë gesê. Die organisasies sê behalwe vir die Reserwebank- en Estina-saak is hulle net bewus van twee ander sake waar só ʼn bevel gemaak is.

“Die hooggeregshof het bevind die Openbare Beskermer was oneerlik, het ʼn wanvoorstelling aan die hof voorgehou oor die materiaal waarop sy gesteun het, het versuim om vergaderings met die presidensie en ander partye bekend te maak, het versuim om bekend te maak wat in daardie vergaderings bespreek is en is op redelike gronde van vooroordeel verdink.”

Mkhwebane het gedreig om hof toe te gaan indien die parlement probeer om haar uit die kussings te lig.

Die parlement sou vandag die reëls bestudeer rakende die moontlike verwydering van die Openbare Beskermer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Johan ·

Tien organisasies het versoek die OB moet waai. Maar saam met hulle is daar miljoene mense wat ook so voel…

Gert van Wierdapark ·

Trek ‘n “Trump” (Troef) op haar! You are Fired!! Finish en Klaar!

Pieter ·

Hehe sy sal n menister word hulle kom net mooi niks oor nie die anc het mos ons belasting geld maak nes hulle wil

Magda ·

moes lamkal afbetaal geword het – hoop net hulle gaan no uwakker word en Madonsela terug bring.

Pieter ·

Sy sal niks oor kom nie glo my so mors hulle ons belasting geld die tyd is hier vir belastingboikot dan is daar nie geld om sulke slim mense aan te stel nie

Landie ·

Hulle kan maar enigetyd vir Madonsela terug bring. ‘n Vrou met integriteit wat haar werk gedoen het.

blouapie ·

Het sy geen skaamte nie? Moes al lankal self bedank het, maar die “pay” is te lekker en die mag te veel!

Rohan ·

Ongelukkig vir ons mag Prof. Madonsela nie dien nie. Die OB dien net vir 7 jaar, dan is daar ‘n ander persoon.

Johann cb ·

Wanneer gaan die dame besef dat sy lankal sélf haar pos moes ontruim het? Hoeveel “boodskappe” moet nog gestuur word?

Dries du Toit ·

As sy net n greintjie integriteit gehad het sou sy nou bedank het. Sy is die openbare beskermer wat deur die publiek vertrou moet word. Die publiek soek haar nie daar nie. Besef sy dit nie

Kobus ·

Hoekom bedank sy nie. Want sy word soos ander onbevoegde amptenare beskerm en sy weet dit.

Zumie ·

In Afrika bedank jy NIE uit skaamte vir jou optrede nie… jy baklei om lewe en dood vir jou posisie op die soustrein vir solank jy kan…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.