Tiener kry opehartoperasie ná windbuks-skoot

Ian Venter tydens sy herstel

ʼn Tienerseun van Fochville moes ʼn opehartoperasie ondergaan nadat hy met ʼn windbuks geskiet en die piepklein koeël sy borsbeen deurdring en in sy hart geëindig het.

Net ʼn paar millimeter spierweefsel het in die pad gestaan van ʼn noodlottige besering vir die 15-jarige Ian Venter van Fochville.

Die sportiewe tienerseun is ʼn talentvolle skolerugbyspeler wat lief is vir die buitelewe, spansport speel en tyd saam met vriende deurbring, maar ná die voorval moes hy skielik om sy lewe baklei.

Dr. Elias Zigiriades, ʼn kardiotorakale chirurg wat by Netcare Krugersdorp praktiseer, verduidelik dat die koeël deur Ian se borsbeen gegaan en twee van sy hartkamers binnegedring het. Dit het sy kroonslagaar met minder as ʼn sentimeter gemis voordat dit net buite die regterventrikel vasgesteek het.

“Dit was ongelooflik gelukkig dat die koeël Ian se bors daar binnegekom het aangesien die kanse om sy lewe te red aansienlik minder kon wees. Soos dit was, het sy hart reeds aansienlike trauma ondergaan, en omdat die koeël so klein was en die ligging daarvan nie dadelik en maklik identifiseerbaar was nie, moes ons versigtig trap,” sê hy.

Met die operasiespan op bystand, het dr. Zigiriades saam met ʼn radioloog en kardioloog gewerk om ʼn CT-angiogram te doen wat hulle in staat gestel het om ʼn 3D-voorstelling van Ian se hart te skep om die koeël op te spoor, wat verbasend baie skade aangerig het.

“Ons was verstom oor hoe diep die impak van daardie klein koeël was. Terwyl ons gedeeltes van skade kon sien wat dit veroorsaak het, was dit moeilik om vas te stel of dit binne of buite die spierwand gestop het. Ian se behandeling is reeds vertraag deur ʼn ongelukkige reeks gebeure, met die nooddiensverskaffer wat hom na ʼn ander hospitaal geneem het voordat hy uiteindelik na ons verwys is. Hoewel hy stabiel was, was dit teen die tyd dat hy by Netcare Krugersdorp aangekom het, noodsaaklik dat sy besering dadelik aangepak moes word.”

Ian se ma, Teresa, onthou die gevoel van vrees toe sy hoor dat Ian ʼn opehartoperasie sal moet ondergaan. “Ongelukke gebeur, veral met kinders, maar ek het nooit gedink dat my fikse en gesonde seun vir ʼn prosedure soos hierdie sou gaan nie. Maar, soos dr. Zigi verduidelik het, was daar nie meer tyd om te verloor nie en ek is natuurlik so bly dat hy opgetree het toe hy dit gedoen het,” sê sy.

Volgens dr. Zigiriades is die twee mees verstommende ontdekkings rakende Ian se besering eers gemaak toe hy in die teater was.

“Eerstens, toe ek begin opereer het, het ons gesien dat daar ʼn enorme hoeveelheid bloed rondom Ian se hart was – sowat 800 ml tot 1 liter – wat gedreineer moes word. Die meeste pasiënte is reeds baie onstabiel by die 200 ml-merk, so die feit dat Ian dit selfs tot hier gemaak het, was nogal merkwaardig,” wys hy uit.

“Dit was ook in hierdie tyd dat ons kon sien hoe naby die koeël aan Ian se kroonslagaar gekom het. Ian sou nie oorleef het as dit daardie slagaar getref het nie. Hy moes ʼn paar beskermengele gehad het wat oor hom gewaak het.

“Gegewe hoeveel skade daardie klein koeël reeds aangerig het, het ons narkotiseur ook ʼn  eggo-kardiogram tydens die prosedure gedoen om te bepaal of enige skade aan die hartkleppe aangerig is. Dit is ʼn spesiale skandering wat met ʼn buis deur die keel gedoen word wat klankgolwe gebruik om die werking van die hart te bepaal,” verduidelik hy.

Dr. Elias Zigiriades

Gelukkig het dr. Zigiriades en die span egter in hierdie stadium die volle omvang van die skade bepaal. Nadat die koeël verwyder en die skeurtjies herstel is, is Ian na die hospitaal se kardiotorakale intensiewesorgeenheid oorgeplaas. Daar het sy herstelproses begin onder die wakende oog van die eenheid se ervare en bekwame verpleegsters. Teen die volgende oggend het hy reeds in ʼn stoel gesit, en binne ses dae was hy gereed om ontslaan te word.

“Ian het dadelik met rehabilitasie by die fisioterapeut begin en het vinnig teruggebons. Sy ouderdom en fiksheidsvlak was aan sy kant,” sê dr. Zigiriades.

Volgens Teresa het die tydsberekening van Ian se besering beteken dat hy net ʼn paar dae aan die begin van die skoolkwartaal moes misloop, en afgesien van ʼn kort hospitaalbesoek om vloeistof uit sy longe te laat dreineer, ʼn algemene gebeurtenis ná ʼn opehartoperasie, is hy in uitstekende gesondheid.

“Aan die begin moes Ian dit rustig vat, en sy skool was baie behulpsaam om spesiale reëlings te tref om met sy herstel te help, soos om ʼn sluitkassie nader aan sy klasse te sit sodat hy nie sy boeke te ver hoef rond te dra nie. Hy het daagliks begin oefen om sy spierkrag en fiksheid te herbou, en hy oefen nou vir die volgende rugbyseisoen.

“Ons is so bly hy kan ʼn normale lewe van visvang, fietsry en sy sport geniet. Ons het almal groot geskrik, maar gelukkig het hy die sorg gekry wat hy nodig gehad het en is hy nou weer besig om vir sy toekoms voor te berei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.