Tiener sterf tydens storm

Die storm het verskeie huise beskadig en meer as 1000 mense word geraak. (Foto: Facebook/ Sihle Mavuso)

ʼn 13-jarige seun is dood nadat hy Maandag deur weerlig in Glencoe naby Dundee in KwaZulu-Natal getref is.

Die storm, wat Dundee en omliggende gebiede Maandagaand getref het, het 45 minute geduur en nog ses mense beseer. ʼn Spoor van verwoesting is ook in plekke binne die Umgungundlovu-distriksmunisipaliteit (Pietermaritzburg en onliggende gebiede) gelaat.

Luidens verslae deur die KwaZulu-Natalse sentrum vir rampbestuur het die donderstorm 45 minute geduur en die lewe van “ʼn man” geëis toe hy deur weerlig getref is.

Die Dundee Herald het die slagoffer as die 13-jarige Nathan Vorster, ʼn leerder aan die Dundee Junior School, geïdentifiseer.

In ʼn plasing op Facebook het die Middelburg-stoeiklub sy innige simpatie en meegevoel met die Vorster-familie betuig. Luidens die plasing was Nathan ʼn stoeier aan die Noord-Natal Rhinos-stoeiklub.

Nog ses mense is beseer toe dakke en mure op hulle in- of omgeval het. Sommige slagoffers is na ʼn hospitaal gehaas, terwyl ander behandeling tuis ontvang het.

Skade wat deur die storm in Glencoe aangerig is. (Foto: Facebook/Endumeni Local Municipality)

Volgens ʼn woordvoerder van die KwaZulu-Natalse departement van samewerkende regering en tradisionele sake is verskeie huise in die nedersetting oorspoel en omgevalle bome het paaie versper.

“ʼn Voorlopige assessering van die skade dui daarop dat 173 huise beskadig is wat 1 211 mense raak. Sakeondernemings is ook beskadig en omliggende boere het vee en gewasse verloor.”

Skade is ook in gebiede onder die beheer van die Umgungundlovu-distriksmunisipaliteit aangeteken. ʼn Paar huise is beskadig, maar geen beserings of sterftes is tot dusver aangemeld nie.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het intussen nog reën en donderstorms Woensdag vir dele naby die Drakensberge, asook Kokstad en Pietermaritzburg voorspel. ʼn Geel vlak 2-waarskuwing vir hewige donderstorms, hael, sterk winde en kitsvloede is vir dié dele, asook Gauteng en dele van Mpumalanga en Noordwes uitgereik.

Skade wat deur die storm in Glencoe aangerig is. (Foto: Facebook/ Endumeni Local Municipality)

Rampbestuurspanne van die plaaslike regering het intussen komberse, matrasse en kospakkies na die geraakte gebiede in KwaZulu-Natal versprei.

Bongiwe Sithole-Moloi, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake in die provinsie, het gesê rampbestuurspanne sal voortgaan om hulp aan geraakte gesinne te verleen.

“Ons is diep bekommerd oor die voortdurende verwoestende reën in ons provinsie, wat ʼn kommerwekkende aanduiding van aardverwarming is.”

Sy het inwoners gemaan om gehoor te gee aan weerwaarskuwings en na veiliger gebiede te beweeg wanneer hulle aangesê word om dit te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.