Tientalle gesinne se ligte nou aan danksy mikronetwerk

Die mikrokragnetwerk in die Noord-Kaap. (Foto: Verskaf)

Eskom het Vrydag een van sy eerste mikrokragnetwerke by die afgeleë Swartkopdam, sowat 150 km vanaf Upington, in die Noord-Kaap bekend gestel.

Dié mikronetwerk sal nou elektrisiteit aan 39 huishoudings verskaf wat nie vroeër toegang daartoe gehad het nie aangesien dit feitlik onmoontlik is om die bestaande kragnetwerke in die omgewing uit te brei en met ander te verbind.

Slegs twee ander mikrokragnetwerke, wat elektrisiteit aan ʼn klein groep mense verskaf, is al vantevore in die omgewing van Ficksburg in die Vrystaat en Lynedoch in die Wes-Kaap ontplooi.

Monde Bala, Eskom se groephoof vir verspreiding, sê mikrokragnetwerke bied ʼn “doeltreffende, betroubare en maklik ontplooibare oplossing vir die geografiese elektrifisering van uitdagende gebiede wat óf moeilik toeganklik is óf uitgebreide kapitaalbesteding vereis”.

Weens die afgeleë ligging van die Swartkopdam het Eskom dit aanvanklik oorweeg om ʼn 200 km lange 132 kV-lyn vanaf die Gordonia-substasie aan te lê en ʼn substasie by Noenieput te vestig. Dit sou egter R250 miljoen kos en Eskom het uiteindelik besluit om eerder ʼn mikronetwerk tot stand te bring.

Bala sê die ontplooiing van ʼn mikrokragnetwerk by Swartkopdam dien as bewys dat mikronetwerke tot stand gebring kan word in afgeleë gebiede wat moeilik bereikbaar is en waar die gebruik van konvensionele maniere van elektrifisering te duur sal uitwerk.

Mikrokragnetwerke is nie net aansienlik goedkoper nie, maar dra ook by tot die vermindering van koolstofvrystellings aangesien die netwerke van hernubare energiebronne gebruik maak.

Eskom beplan om teen einde Maart 2024 sowat 100 mikronetwerke oor die land te ontplooi.

Mpho Makwana, voorsitter van Eskom se direksie, sê die Swartkopdamprojek bevestig Eskom se verbintenis tot die Suid-Afrikaanse regering om hom by te staan in sy mikpunt om te verseker dat elke Suid-Afrikaner toegang tot elektrisiteit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.