Toenemende opstand terwyl Eswatini brand

Koning Mswati III van eSwatini tydens ‘n besoek aan Suid-Afrika in 2017. (Foto: Yandisa Monakali/GCIS)

Talle strate van Eswatini (voorheen Swaziland) was Woensdag verlate terwyl pro-demokrasie-aktiviste aanvoer tot agt mense is dood in skermutselings met die polisie in Afrika se laaste absolute monargie.

Betogings, wat die afgelope paar weke betreklik vreedsaam verloop het, het Maandag in geweld ontaard in die klein en gewoonlik rustige koninkryk.

Betogers het in die twee grootste stede, Mbabane en Manzini, die strate ingevaar om politieke hervorming te eis.

Die regering het soldate ontplooi terwyl woedende skares die verkeer ontwrig en winkels geplunder het en het ʼn aandklokreël – volgens die regering glo om die verspreiding van Covid-19 te stuit – in werking gestel.

Ooggetuies sê egter gewelddadige skermutselings tussen betogers en die polisie duur voort.

Lucky Lukhele, ʼn woordvoerder vir die pro-demokrasiegroep Swaziland Solidarity Network, sê agt aktiviste is oornag in Manzini doodgeskiet. Volgens Lukhele was hulle onder die nagenoeg 28 betogers wat reeds gewond is. Sommige is glo in die vroeë oggendure na hospitale geneem.

Internettoegang is sedert Dinsdag sporadies afgeskakel, en Lukhele het die regering daarvan beskuldig dat hy mense in die duister probeer hou.

Wandile Dludlu, sekretaris-generaal van die People’s United Democratic Movement (Pudemo), sê winkels is gesluit en “soldate regeer” dorpe.

Hy beweer tot soveel as 18 mense is sedertdien in botsings geskiet.

VSA vra vir selfbeheersing

Gister kon die geluid van geweerskote in die verlate strate van Mbabane gehoor word.

“Ons het gaan slaap met skote wat klap en weer so wakker geword,” sê Mbongwa Dlamini, hoof van die Swaziland National Association of Teachers.

“Die plundery en verwoesting van eiendom was geweldig,” sê hy.

ʼn Brouery waarin koning Mswati III ʼn aandeel het, is onder meer aan die brand gesteek.

In Suid-Afrika het die ANC ʼn “dringende beroep” op die Eswatini-owerhede gedoen om weg te beweeg van outokrasie en die wrede onderdrukking van burgers se regmatige kommer.

Die ANC het ook gevra dat opposisiepartye toegelaat en politieke aktiviste vrygelaat word.

Die woordvoerder van die Amerikaanse departement van buitelandse sake, Jalina Porter, het ook ʼn beroep op die owerhede gedoen om “selfbeheersing” te wys.

“Die VSA doen ʼn beroep op alle belanghebbendes om nie net kalm te bly nie, maar ook vreedsaam,” sê sy.

Lede van die EFF het vandeesweek na die Oshoek-grenspos opgeruk om hul steun vir Swaziland se burgers te kenne te gee.

SABC het vroeër berig honderde vragmotors is by die Oshoek-grenspos gestrand terwyl hulle wag om die grens oor te steek. Sommige van die vragmotors is glo ook geplunder.

Omdat die internet in Swaziland nie deurgaans werk nie, kan swaar vragmotors se besonderhede nie op die stelsel verwerk word nie.

Die openbare uitsaaier het ook berig dat grensbeamptes die hulp van die weermag en polisie gevra het om te verseker gestrande vragmotors is veilig.

Eswatini onderdruk lankal reeds enige afvalligheid of pro-demokrasie-bewegings en politieke partye in die land word sedert 1973 verbied. Die koning stel alle ministers aan en beheer die parlement.

Frustrasies het vandeesweek egter oorgekook en tot sporadiese betogings gelei. Die regering het blitsig gereageer en alle betogings verbied – ʼn stap wat net tot verdere woede gelei het.

Daar was vroeër berigte dat koning Mswati III in Suid-Afrika wegkruip terwyl regeringsmagte die opstand probeer onderdruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wielspore ·

Ek kan verstaan dat die mense ongelukkig is en daar protes aksie is, maar wat ek nie verstaan is dat winkels wat in privaat besit is geplunder word. Dit wil eerder voorkom of die doel eerder is om die land onregeerbaar te maak.

Snowball ·

Die ‘koning’ is ryk, rojaal en rond. Leef en spandeer asof môre nie bestaan nie en sy ‘onderdane’ kan nie eers krummels bekostig nie. Walglike oordaad wat koud staan teenoor ander se swaarkry. Koning se agterent man.

MakersMark ·

Grootmeneer koning van bankrot mishoop maar wil lewe soos Europese koninglikes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.