Toerisme gedy in die Wes-Kaap

Gewilde bord by die Kaap die Goeie Hoop (Foto: Stefan Schäfer, Lich – Eie werk via Wikimedia Commons)

Die toerismebedryf gedy in die Wes-Kaap. Meer toeriste het via vlugte by Kaapstad- internasionale lughawe in die eerste ses maande van 2023 aangekom as die statistieke voor die Covid-19-pandemie.

Die getal internasionale retoerpassasiers het sterk gebly tussen Januarie en Junie 2023 op 1,4 miljoen. Dit oortref voor-pandemie-vlakke met 104% en groei jaar-op-jaar met 76%.

Dit is volgens die maandelikse toerismeverslag wat deur die Wes-Kaapse regering se amptelike toerisme, handel en beleggingsagentskap, Wesgro, saamgestel word.

“Die toerisme- en gasvryheidsbedryf toon steeds merkwaardige veerkragtigheid en groei in die Wes-Kaap,” sê Mireille Wenger, Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede.

Ander hoogtepunte uit die verslag sluit in 3,2 miljoen plaaslike retoerpassasiers tussen Januarie en Junie 2023, ʼn jaar-op-jaar groeikoers van 9%. George-lughawe se retoerpassasiers het 374 463 gehaal tussen Januarie en Junie 2023 – ʼn jaar-op-jaar groeikoers van 3% in vergelyking met dieselfde periode in 2022.

In die eerste ses maande van hierdie jaar het 90% van toeriste van oorsese markte aangekom en 10% van die Afrika-vasteland.

Die Verenigde Koninkryk is die grootste bronmark na Kaapstad (via lugvervoer) met die VSA, Duitsland, Nederland en Frankryk in die res van die topvyf-posisies.

Die Europese mark bly die grootste bydraer wat toeriste in Kaapstad betref met ses uit die top-10 bronmarkte uit dié vasteland.

Die gewildste bestemmings is die Kaap Agulhas-vuurtoring (92%), Tafelberg- nasionale park: Boulders (61%), Bontebok- nasionale park (60%), Kangogrotte (42%) en Tafelberg- nasionale park: Kaap die Goeie Hoop (36%).

“Een van die belangrikste fokuspunte van die Wes-Kaapse regering se ambisieuse nuwe ekonomiese aksieplan, Growth For Jobs, is om meer toeriste na ons bestemming te lok. Meer toeriste beteken meer werksgeleenthede. Hierdie doelwit het onlangs ʼn indrukwekkende hupstoot ontvang met uitstekende publisiteit wat deur ons fantastiese wynlandgoedere gegenereer is toe dit as een van die wêreld se beste aangewys is,” sê Wenger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Truman Burbank ·

SA se ekonomie is so vernioetig dat dit n goedkoop wegbreek is vir buitelnders. Soos in die 70’s het die arm mense Warmbad toe gegaan.

Lillian ·

Êrens darem ‘n brokkie goeie nuus te midde van al die drama in ons land

Republikein in die Wes Kaap ·

Ons werk almal hard om die Wes-Kaap ‘n sukses te maak. Dis al wat ons het.

annie ·

Wie is ons? En wat behels die sukses? Iets wat nog nie op aarde bestaan nie?

Republikein in die Wes Kaap ·

Hier is baie “onse”. Onder hulle is Afrikaners van die binneland wat hervestig het. Vind die lewe in die suide meer draaglik. Sukses is relatief, maar dis steeds meer sigbaar as die getjommel in die res van die land.

Delia ·

Die Weskaap is pragtig om in selektiewe plekke vakansie te hou of as jy op n landgoed bly. Mitchells Plain, Delft ens ens is waar jou lewe elke dag in gevaar is met bendes wat regeer. En die gewone mens se hoë kragrekeninge om ander te subsidieer. Beweeg tussen die gewone mense, dan kom die waarheid uit.

Republikein in die Wes Kaap ·

Alles wat jy noem kan vinnig reggestel word. Sleutel magte moet net oorgedra word aan die provinsie. Maar dink jy die ANC regime in Pretoria sal dit toelaat? Nee, hulle wil hê dat die provinsie sink.

Delia ·

Vinnig…nee ek glo nie so. Bendes is al so n integrale deel van alles daar al voor 1994.

Republikein in die Wes Kaap ·

Sosioloë reken dat die bendes was deel van die stryd teen apartheid op die flats, net soos die mafia teen Napoleon se destydse besetting van Italië. Die bendes was die beskermers en bevryders, nou is hulle misdadigers. Die provinsie het nou ‘n ystervuis benadering. Perlemoenstropers vlug nou na die Oos-Kaap. Tabak en drank smokkelaars is ook onder druk, maar dwelmkartelle bly steeds ‘n probleem. Jeugprogramne, opvoeding en sakeontwikkeling bly steeds ‘n wenresep om jonges trots te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.