Tonnelbrand laat Johannesburgers sonder krag

Brandbestryders op die toneel. (Foto: JMPD/X)

Johannesburgse nooddienste spook om ’n brand in ondergrondse tonnels onder die M1-dubbeldekker-snelweg naby die Johannesburgse middestad in bedwang te bring.

Die brand het Woensdag in die vroeë oggendure in dié tonnels ontstaan, vermoedelik weens kabeldiefstal en vandalisme.

Die ondergrondse tonnels huisves kabels wat aan City Power en Transnet behoort.

Isaac Mangena, woordvoerder van City Power, sê voorlopige bevindings dui daarop dat die brand die kabel vanaf die Fordsburg-substasie na die Braamfontein-substasie beskadig het.

Inwoners van die Johannesburgse middestad, Braamfontein en Parktown sit intussen tans sonder krag terwyl die vlamme ondergronds geblus word.

Rook trek vanuit die tonnels onder die M1. (Foto: JMPD/X)

Dit is nie in dié stadium duidelik wanneer kragtoevoer weer na dié gebiede herstel sal kan word nie. Mangena sê dit hang af van die omvang van die skade en herstelwerk wat ondergronds sal moet plaasvind nadat die vlamme geblus is.

Robert Mulaudzi, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, sê die M1 noordwaarts én suidwaarts is tans tussen die Empire-en-Crown-wisselaar gesluit sodat brandbestryders toegang tot die tonnels het.

Motoriste wat suidwaarts reis, word aangeraai om van Jan Smuts-rylaan gebruik te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nonnie ·

GAAN KYK MAAR WIE HET DIT GESTIG….ONWETTIGE IMMIGRANTE, ZAMA ZAMAS EN anc/eff KADERS WAT MET DIE POLISIE KRIMINELE, SAAM WERK!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.