Topspoed vanjaar amper 350 km/h by Saldanha-versnelrenne

Versnelrenne by Saldanhabaai. (Foto: Alida Buckle)

Alida Buckle

Die tweejaarlikse Saldanha Drags (versnelrenne) het weer die afgelope naweek in Saldanhabaai aan die Weskus plaasgevind, waartydens snelhede van meer as 300 km/h aangeteken is.

Meer as 7 000 mense het vanjaar weer opgeruk na die Saldanha-vliegveld om deel te neem of te kom kyk hoe deelnemers die teeraanloopbaan “opvreet” om verstommende snelhede te bereik. Sowat 112 motorbestuurders en motorfietsryers het Saterdag aan die wedrenne deelgeneem.

By die besige wegtrekpunt hang die reuk van uitlaatgasse en gebrande rubber en teer in die lug. Die span vat raak. Die vlagmeisies wéét wanneer om die vlae te waai en die afsitter is klokslag op sy pos. Die adrenalien loop hoog. Die bestuurders van die warmgemaakte motors en motorfietse wag hul beurt geduldig in hul bane af sodat hulle elk van hul drie kanse die vinnigste ooit kan maak …

Ernest Roberts in sy Nissan GT-R op pad na die eindstreep. (Foto: Alida Buckle)

ʼn Legende in dié snelgroeiende sport, Ernst Roberts van Johannesburg, het die naweek se vinnigste spoed in sy Nxgen GT-R met perdekrag van 2 200 aangeteken – ʼn verstommende snelheid van 349,1 km/h. Hy het vroeër die dag ʼn spoed van 341 km/h in 14,2 sekondes aangeteken in sy Nissan GT-R R35.

Garion Slamet op sy Hayabusa het die motorfiets-topspoed vir die naweek oor 800 m aangeteken – 312,9 km/h.

Die afgelope 15 jaar het Saldanha sinoniem geraak met uiters goed georganiseerde en professionele versnelrenne oor ʼn kwartmyl (sowat 400 m) en ʼn halfmyl (800 km). Volgens entoesiaste is dit een van die gesogste versnelrenne in die land, met deelnemers wat hul spoedmonsters van oral bring om met hul eweknieë om die titel van Koning van Saldanha te kom meeding.

Dít is ʼn plek waar die harde kenmerkende wha-pa-pap van turbo-enjins waarvan die rewolusies eers hoog opgejaag moet word voordat die wedren aangedurf word, of die brul van nitro-oksied (“nitros” of “nos”) aangejaagde enjins deur elke motorliefhebber se beendere dreun.

Selfs die toeskouers laat brul hul motorenjins op pad na die parkeerplek, sommer vir die lekkerte.

Die versnelrenjaer se tydsberekening met die renligte en die afsitter se handteken moet perfek wees, anders trek die motor in die baan langsaan dalk net ʼn sekonde of twee vinniger weg, en in die meeste gevalle is dit dan neusie verby. Tog is daar kere dat ʼn motor van agter af die ander een verbyskiet, voordat hulle die eindpunt oor is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rheinard ·

“… oor ‘n kwartmyl (sowat 400m) en ‘n halfmyl (800km).”

‘n Halfmyl is definitief nie 800 km nie, maar eerder 800m.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.