Tribuo-fonds bly wawyd wakker vir die kunste

Ses akteurs en twee aanbieders gaan aan ʼn 24-uur-marathon deelneem om ’n verhoogstuk ten bate van die Tribuo-fonds te skep.

Die Tribuo Wawyd Wakker-projek is deel van die derde geldinsamelingsprojek van die Tribuo-fonds wat verlede jaar weens die impak van die pandemie die lig gesien het om uitvoerende kunstenaars in finansiële nood te ondersteun.

Die Tribuo-fonds is ʼn nie-winsgewende organisasie wat gestig is in samewerking met Karen Meiring, (kykNET), Cornelia Faasen (NATi) en die Feesteforum (Aardklop, Klein Karoo Nasionale Kunstefees, Innibos, Suidoosterfees, Vrystaatfees en die Toyota US Woordfees) om vryskutkunstenaars finansieel te ondersteun.

Van Vrydag 2 Julie tot Saterdag 3 Julie gaan die Tribuo-fonds, in samewerking met kunstenaars en rolspelers in die vermaakbedryf, deurnag vermaak verskaf om geld in te samel vir ʼn derde ronde van aansoeke om finansiële hulp van dié fonds.

Cintaine Schutte, Melt Sieberhagen, Dean-John Smith, Wian Taljaard, Gary Naidoo en Esther von Waltsleben het reeds bevestig dat hulle deel van dié produksie sal wees.

Dié ses akteurs gaan deurnag repeteer en improviseer totdat hulle ʼn verhoogstuk geskep het. Dié kreatiewe marathon gaan regstreeks gestroom word en beloof om ʼn interessante proses vir die spelers en fassinerende kykstof vir kykers te wees.

In die loop van die 24 uur sal daar verskeie verrassings vir die akteurs sowel as die kykers wees. Ander bekendes sal ook inloer om die spelers op hulle tone en wakker te hou.

“Met hierdie inisiatief wil ons die aandag op die groot nood in ons kunstebedryf vestig. Die oorgrote meerderheid kunstenaars het slapelose nagte oor hulle finansiële sekuriteit in ʼn tyd waarin soveel teaters hulle deure moes sluit en geleenthede om te werk en gehore te bereik een ná die ander opdroog,” sê Faasen, een van die stigterslede van die Tribuo-fonds en die uitvoerende hoof van NATi (Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief).

Faasen skets ʼn donker prentjie van die kunstebedryf se verknorsing. “Die Tribuo-fonds kon met die eerste twee rondes van aansoeke verskeie uitbetalings maak, maar die derde vlaag van Covid-19-infeksies is besig om die kunste op sy knieë te dwing. Verskeie kunstenaars het hul huise verloor en mense moes motors en besittings verkoop om in basiese behoeftes te voorsien.

“Tribuo is afhanklik van skenkings en donasies en kan aansoeke slegs weer aanvaar as ons genoeg geld ingesamel het om weer uitbetalings te doen.”

Die Wawyd Wakker-deurnagmarathon skop op Vrydag 2 Julie om 12:00 af en word regstreeks via die Tribuo-fonds se webwerf gestroom.

Borge en weldoeners wat betrokke wil raak se name of logo’s kan tydens die uitsending vertoon word. Daar sal ook op sosiale media erkenning aan die persone of maatskappye gegee word wat bydra. Anonieme donasies en enige bedrag is welkom.

Die fonds is afhanklik van liefhebbers en ondersteuners van kunstefeeste en die kunste in die algemeen. Bydraes kan deur private persone, korporatiewe instansies of filantropiese skenkers gemaak word en ʼn 18A-belastingsertifikaat is op aanvraag beskikbaar.

Sedert die stigting van die Tribuo-fonds in 2020 is daar reeds meer as R3 miljoen ingesamel en versprei onder mense wat voor én agter die skerms in die kunste werk.

Kontak [email protected] vir meer inligting oor skenkingsmoontlikhede. Besoek die webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.