Trokdrywer agter tralies ná hy met 24-jarige vrou wegry

(Foto: Pixabay)

ʼn 44-jarige vragmotorbestuurder sal na verwagting Maandag in die Brits-landdroshof verskyn vir die beweerde ontvoering van ʼn 24-jarige vrou.

Volgens kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, het ʼn man en sy vrou Woensdagaand ʼn saamrygeleentheid op ʼn vragmotor van Bela-Bela na Rustenburg gekry.

“Dit is nadat die bestuurder vir die egpaar gesê het dat hy Rustenburg om Kaapstad toe ry en hulle ingestem het om saam met hom tot in Rustenburg te ry. Die bestuurder het glo verskeie stoppe langs die pad gemaak,” sê Tselanyane.

Die man het glo by die Total-vulstasie op Brits die trok verlaat om kos te gaan koop, en sy vrou op die bed agter die sitplekke gelaat om te slaap.

“By sy terugkeer kon hy nie die vragmotor of sy vrou kry nie, waarna hy ʼn saak van ontvoering by die polisie aangemeld het. Die soektog na die vragmotor is onmiddellik begin.

ʼn Span wat uit speurders, lede van misdaadintelligensie, sigbare polisiëring en distriksbeamptes in Brits asook personeel van private sekuriteitsmaatskappye bestaan het, het Donderdag met die soektog voortgegaan.

“Die vragmotor is eindelik met behulp van kringtelevisiebeeldmateriaal opgespoor, waarna die eienaar gekontak is en die opsporingsbewegings van die vragmotor bevestig is, insluitend die presiese ligging.

Die span het die vragmotorbestuurder kort daarna vasgetrek.

Volgens Tselanyane het die vragmotorbestuurder tydens ondervraging toegegee dat hy inderdaad die klaer en sy vrou ʼn saamrygeleentheid gegee het en die vrou ontvoer het terwyl haar man by die Total-vulstasie kos gaan koop het.

“Verder het die bestuurder die polisie ingelig dat hy die slagoffer by ʼn petrolvulstasie op Mooinooi agtergelaat het en na Rustenburg gery het. Sy is by die Mooinooi-polisiestasie gevind waar sy om hulp gaan aanklop het.

“Die 44-jarige vragmotorbestuurder is in hegtenis geneem en van ontvoering aangekla,” sê Tselanyane.

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale kommissaris in Noordwes, het die spanwerk tussen polisielede en personeel van die private sekuriteitsmaatskappye geloof.

“Diegene wat aanhou om misdade teen die kwesbaarste [lede] van ons samelewing te pleeg sal die volle mag van die reg moet trotseer.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Dank aan al die geregsdienaars en steunpersoneel vir hul flinke diens.
Die sterk toenemende tendens van menseroof is ‘n ernsaangeleentheid. Daar moet ongenaakbaar teenoor hierdie kriminele opgetree word. Demokrasie het geen betekenis indien die burgery goedsmoeds ontvoer kan word nie.

Karoo ·

Skurk…. vir wat het hy die vrou ontvoer…. wat wou hy met haar maak? Ek kry sommer skaam om te dink my baas moes die polisie help na my soek, hoe verduidelik ek dit aan hom en my gesin. Die wereld word al hoe meer vreemd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.