Trokdrywers vas wat glo steenkool steel

Die Kendal-kragsentrale in Mpumalanga. (Foto: Eskom)

Twee vragmotorbestuurders is Woensdagaand by Eskom se Kendal-kragsentrale in hegtenis geneem nadat hulle in die besit van vermoedelik gesteelde steenkool betrap is.

Die vragmotors behoort aan ʼn as-vervoermaatskappy wat by Eskom gekontrakteer is. Die twee was net by die kragsentrale se steenkoolhek op pad uit, toe veiligheidspersoneel hulle voorgekeer het vir ʼn deursoeking van die voertuie.

Albei bestuurders het hulle teen die inspeksie verset en volgehou dat die vragmotors leeg is. Die sekuriteitspan het egter daarop aangedring dat die vragmotors deursoek word en die gesteelde steenkool is in die sleepwaens gevind.

“Die diefstal van steenkool is ʼn hoogs georganiseerde misdaad en die sindikate betrokke word verryk deur die opbrengs van die handel in gesteelde steenkool,” sê adv. Karen Pillay, algemene bestuurder van veiligheid by Eskom.

Sy sê dit lei tot voortgesette verliese van miljarde rande vir Eskom en het ʼn regstreekse uitwerking op produksie.

“Daar is verskeie onwettige opgaarplekke en stortingsterreine in die provinsie wat die gesteelde steenkool ontvang. Eskom sal verseker dat die oortreders boet,” sê Pillay.

Die inhegtenisnemings volg op “volgehoue en uitstekende werk” deur Eskom se veiligheidspan in samewerking met die polisie om misdaadnetwerke te identifiseer en te stuit.

ʼn Saak van diefstal is by die Ogies-polisiestasie aanhangig gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

My siening ·

Baie goed ek hoop net dit word deur gevoer tot n ruseltaat!

Danie ·

Uitstekend nou nog 10 jaar se uitstelle en dan hoop ons vir dalk n skuldig bevinding.Regtig kon dit so moeilik gewees het om die jakkals te vang toe hy uit die gat kom na al die tyd.Die sekeriteit ook betrokke gewees.

Sarel ·

Wie het die vrag gelaai..ek meen die Drywers kon dit nie met grawe gedoen het nie. Waar is die ander medepligtiges.
Nou is hulle gearresteer, so due Polisie en Veligheidsduenste hulle werk gedoen.
Nou gazn due Hof borg toestaan en due misdaad gasn voort.

Casper ·

Dit is goeie nuus.Lê beslag op die trokke en laat dit verbeurd verklaar word aan die staat.Verkoop die goed en gee die geld vir eskom.

Wit Leeu ·

Ag asb ! Môre weer uit op borg, dan ploeter hulle maar net weer aan soos normaal !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.