Tshwane-metro: Meer as helfte van dissiplinêre verhore ná jaar nog hangend

(Foto: Zakysant via Wikimedia Commons)

Die Tshwane-metro sê hy werk hard om die groot agterstand in dissiplinêre verhore in die metro af te handel, wat grootliks ʼn probleem in die Tshwane-metropolisieafdeling is.

Die metro het in die afgelope jaar nog net 182 (43%) van sy 419 dissiplinêre verhore afgehandel. Dit is ver van sy teiken om alle verhore binne 90 dae af te sluit.

Kingsley Wakelin, burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe en gedeelde dienste, sê die probleem lê by ʼn massiewe agterstand in die afhandeling van dissiplinêre sake in veral die Tshwane-metropolisieafdeling (TMPD).

“Ondanks die agterstand maak die metro voortdurend vordering om beamptes aanspreeklik te hou terwyl dissiplinêre sake vinnig en effektief afgehandel word.

“Sedert 1 Julie 2022 was 259 (61%) van die 419 geregistreerde dissiplinêre verhore in die TMPD, waarvan net 37 (14%) afgehandel is. Alle ander afdelings het ʼn afhandelingskoers van 90% gehad, en dis waar ons moet wees.”

Wakelin sê met meer as 20 000 werknemers in diens is dit belangrik om ʼn eerlike en professionele werksomgewing daar te stel.

“Waar beamptes tekortskiet, het die werkgewer die verantwoordelikheid om gevolge in te stel deur dissiplinêre aksie en te verseker dat daar te alle tye verantwoordbaarheid is.

“Ons wil ons inwoners verseker dat die persepsie dat ons beamptes nie verantwoordbaar hou nie en dat hulle onaantasbaar is, doodeenvoudig nie waar is nie. Ja, ons het uitdagings, maar ons werk onverpoosd om dit op te los.”

Inwoners word aangemoedig om enige ongerymdhede en wangedrag by 080 874 9263 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.