Tshwane voor hof oor Wonderboom-lughawe

Die Wonderboom-lughawe. (Foto: Verskaf)

Die Tshwane-metro word môre (Dinsdag) voor die hof gedaag oor die beweerde ongemagtigde aanstelling van ʼn eksterne maatskappy wat sedert die begin van die jaar as konsultant en bestuurder van die Wonderboom-lughawe optree.

Die Wonderboom Lughawe Belangegroep (WAIG), wat huurders en eienaars van vliegtuie en vliegskole op die lughawe verteenwoordig, bring ʼn dringende aansoek in die Noord‑Gautengse hoërhof om die munisipaliteit onder meer te verplig om kundiges aan te stel om die lughawe te bestuur.

Wonderboom behoort aan Tshwane en was sedert 2017 herhaaldelik in die nuus weens bewerings van tenderbedrog, korrupsie en die ongemagtigde aanstelling van eksterne kontrakteurs.

Dit het na bewering reeds daartoe gelei dat die lughawe laat verlede jaar van kategorie 5‑ na kategorie 2‑status afgegradeer is.  Verlede week is die lughawe selfs kortstondig gesluit omdat die gras op die aanloopbaan te lank was en dit glo ʼn veiligheidsrisiko vir vliegtuie ingehou het.

Ntiyiso Consulting, die konsultante wat pas by die lughawe aangestel is, is die tweede respondent in die saak.  Die hof word ook versoek om dié maatskappy se aanstelling nietig te verklaar.

Die huidige lughawebestuurder, Ian Melamed, is juis deur Ntiyiso aangestel.  Dit is hý wat verantwoordelik was vir die sluit van die lughawe verlede week.

Sheila Senkubuge, burgemeesterkomiteelid oor paaie en vervoer, en Stevens Mokgalapa, burgemeester van Tshwane. (Foto: Christel Cornelissen)

Daar hang ook steeds ʼn groot vraagteken oor die aanstelling van die maatskappy wat sedert 2017 die lughawe bestuur het.  Professional Aviation Services (PAS) se kontrak met die munisipaliteit is weens beweerde noodsituasies twee keer verleng sonder om indiensnemingsprosedures te volg.

PAS het laat verlede jaar die handdoek ingegooi, waarna die burgemeester, Stevens Mokgalapa, en die burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer, Sheila Senkubuge, ʼn mediakonferensie gehou het om aan te kondig dat Ntiyiso aangestel is om Wonderboom finansieel haalbaar vir die munisipaliteit te maak.  Na bewering het die maatskappy geen ondervinding van lugvaart of die bestuur van ʼn lughawe het nie.

Senkubuge het kort na die aankondiging bedank toe Maroela Media aan die lig gebring het dat sy as Ugandese burger nie in die 2016‑verkiesing kon stem of ʼn raadslid kon word nie.  ʼn Saak van bedrog is daarna deur ʼn lid van die publiek teen haar aanhangig gemaak.

Senkubuge en Mokgalapa was albei terselfdertyd in die nuus toe ʼn klankgreep op sosiale media versprei is waarin hulle na bewering seksuele omgang in haar kantoor gehad het.  Dit kon nie bewys word nie, maar Mokgalapa het die afgelope naweek as die stad se burgemeester bedank.

WAIG sê in stukke voor die hof dat geen openbaredeelnameproses die besluit voorafgegaan het toe eksterne konsultante en kontrakteurs aangestel is om die lughawe te bestuur nie.  Daar is byvoorbeeld nie aan die Grondwet of die voorskrifte van munisipale wetgewing voldoen nie.

Die groep vra ook aan die hof dat rekords van die administratiewe besluitnemingsproses wat met die aanstelling gevolg is aan hulle beskikbaar gestel word.  As dit nie beskikbaar is nie, versoek hulle dat ʼn interdik teen Tshwane uitgereik word.

“Intussen kan die lughawe soos in die verlede doeltreffend bestuur word met die menslike hulpbronne wat in die munisipaliteit beskikbaar is,” lui die WAIG se eedsverklaring.

ʼn Verdere versoek is dat munisipale amptenare wat voorheen by die lughawe gewerk het en sonder rede na ander afdelings oorgeplaas is, binne 15 dae in hul poste herstel moet word óf dat gekwalifiseerde persone bystand op die lughawe moet verleen.

WAIG sê hulle saak hou verband met die oënskynlike wanaanwending van openbare fondse.  Hulle beweer ook dat die ondoeltreffende bestuur van die lughawe tot gevolg het dat geen instandhouding gedoen word nie.  Lugvaartvoorskrifte word nie afgedwing nie en daar is byvoorbeeld nie eers ʼn behoorlike brandbestrydingsdiens ingestel nie.  “Dit hou beslis ʼn inherente bedreiging vir gebruikers van die lughawe in,” beweer die WAIG in hofstukke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

henndrik ·

mens wonder in wie se sakke gaan die geld want daar is duidelik iets nie hier reg nie

Leon ·

Die wonderlike feëtjie wereld van Swart Ekonomise Bemagtiging. Is ditnie wonderlik hoe SEB werkende instansies kan vernietig tot wanfunksionele entiteite nie. En dan sê die ANC en DA hoe wonderlik dit werk Ek is verbaas Oliver Tambo werk nog Daar moet iewers wit mense wees wat daar die toutjies trek.

Lex ·

So the maladministration saga of the Wonderboom airport by the DA and their prizewinning team of MMC’s goes from bad to worse. The issue of the maladministreation of the Wonderboom airport by the DA-led city has been on a slow fuse for a long time now. But instead of dealing with the issues, the DA, on instructions from one of their parliamentary leaders instructed their local leadership team to launch a personal attack on the veteran and respected journalist working on this story, by creating after-the-fact video evidence to call out the journalist for false reporting. The reporting on this story was always spot on. Well done Susan!

Tino ·

Ek het nie geweet daar is gras op die aanloopbaan nie… So ver my kennis strek moet dit ‘n teer aanloop baan wees…

Niel ·

die probleem is die gras rondom die aanloopbane wat hoog is wat gevaarlik mag raak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.