Tshwane wil nog sewe afdank oor staking

(Foto: Oupa Mokoena/ANA)

Nóg sewe werknemers verbonde aan die Tshwane-busdiens (TBS) het Dinsdag briewe ontvang waarin hulle ingelig word van die metro se voorneme om hulle af te dank.

Dié werknemers word daarvan beskuldig dat hulle die onlangse stakings in die metro, wat deur die arbeidshof as onwettig verklaar is, ondersteun en bevorder.

Selby Bokaba, woordvoerder van die Tshwane-metroraad, sê die sewe werknemers, van wie vyf verteenwoordigers van die vakbond Samwu is, is as die staking se “aanhitsers” geïdentifiseer. Hulle het glo verhoed dat busse Maandag vir bedrywighede gereed gemaak word, wat na verwagting Dinsdag hervat sou word.

“Die sewe werknemers het na bewering van hul kollegas wat nie gestaak het nie, by die C de Wet-depot in Pretoria geïntimideer.

“Twaalf TBS-bestuurders het Dinsdagoggend vir diens opgedaag, vier het gebel en beweer dat hulle siek is, en slegs twee busse het vir die 04:30-skof uitgegaan,” sê Bokaba.

“Daar was egter geen pendelaars by die bushaltes nie, en die busse het na die depot teruggekeer.”

Die sewe opstokers is 24 uur gegun om vertoë te rig waar hulle redes kan gee oor waarom hulle nie permanent afgedank moet word nie.

“Die Tshwane-metro het die afgelope naweek aangekondig dat bedrywighede Dinsdagoggend vir die TBS sowel as A Re Yeng – wat vir langer as ʼn maand weens die staking opgeskort was – hervat sal word.

“Die A Re Yeng-bedrywighede is vanoggend sonder enige probleme hervat, en die departement van paaie en vervoer sal weer die TBS-werknemers opdrag gee om later die dag vir diens aan te meld,” sê Bokaba.

“Indien werknemers nie hieraan gehoor gee nie, sal dissiplinêre stappe ingestel word, wat die uitreiking van briewe insluit waarin hulle van die stad se voorneme om hulle te ontslaan, ingelig word.”

Altesame 123 werknemers is tot op hede permanent uit die metro se diens ontslaan. Meer afdankings is op pad teen diegene wat die hofinterdik verontagsaam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

WitBlits ·

Skitterend – vat hulle vas…. Dit is hoogtyd dat Dissipline terrugkeer.

Althes ·

Ek stem, raak van die moeilikheidmakers ontslae. Die munisipaliteit sal beter funksioneer

Pietertjie ·

‘n Druppel aan die emmer, as ek na die beeldmateriaal van die stakers kyk. Maar elke bietjie help seker. Die belangrikste volgens my is om die salarisrekening in lyn te bring met die kwaliteit van dienslewering. Anders is dit maar net nóg ‘n vorm van Staatskaping.

Vanessa ·

Ek voel ongelukkig ook sterk dat hulle afgedank word. Ek is seker daar is baie ander werklose mense wat in hul poste aangestel wil word (wat bereid is om te werk).

gpsa ·

Goed so, hoogtyd dat daar gevolge is vir die soort dade. Wys vir almal daar is gevolge en kan nie meer net doen wat hulle wil nie. Goed so DA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.