Twee mense is dood en minstens 29 mense beseer nadat ʼn bus Dinsdagoggend op die N12 in Johannesburg omgeslaan het.
Die bus was van Mthatha in die Oos-Kaap onderweg toe die ongeluk gebeur het.
Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie (JMPD), het gesê die ongeluk het omstreeks 04:00 gebeur. “Daar word beweer dat die bestuurder aan die slaap geraak het waarna die bus van die N12-Oos oor die versperring gegaan en op die N12-Wes beland het,” het hy gesê.
“Ongeveer 29 mense, onder wie die bestuurder, het ernstige beserings opgedoen. Twee mense is dood,” het Minnaar gesê.
Dit is nie in dié stadium duidelik of die busbestuurder ʼn assistentbestuurder gehad het nie.
“Die bus was op pad na Germiston en Parkstasie om passasiers af te laai. Ná die ongeluk is ʼn ander bus ontbied om die passasiers wat nie beseer is nie by die toneel op te laai.”
Die ongeluk het swaar verkeersopeenhopings in die gebied veroorsaak en motoriste is aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak.