Twee dood na voorval by hoenderverwerkingsfabriek

BJK se hoenderverwerkingsfabriek buite Greylingstad. (Foto: Save Greylingstad from BJK/Facebook)

Twee mense is dood en drie mense in die hospitaal opgeneem na ʼn voorval by ʼn hoenderverwerkingsfabriek buite Greylingstad in Mpumalanga.

Die voorval wat Dinsdagmiddag by BJK Industries se hoenderverwerkingsfabriek plaasgevind het, word deur die polisie ondersoek.

BJK het intussen in ʼn verklaring gesê hy is diep bedroef oor die gebeure wat gelei het tot die dood van twee mense en die hospitalisering van drie werknemers.

“BJK Industries het, bykomend tot die SAPD se ondersoek, ook sy eie deurdringende ondersoek van stapel gestuur ten einde ʼn volledige begrip te kry van die gebeure wat ontvou het.”

Die voorval is ook by die departement van indiensnemings en arbeid se inspektoraat aangemeld en BJK Industries sal sy volle samewerking met die ondersoek gee.

“Die veiligheid en welstand van ons werknemers en die gemeenskap bly ons hoofprioriteit. BJK Industries sal alle nodige stappe doen om te verseker dat soortgelyke voorvalle nie in die toekoms plaasvind nie. Ons gedagtes en ondersteuning is met die geraakte individue en hul families in hierdie moeilike tyd.”

Volgens BJK Industries sal hy die publiek en belanghebbendes op hoogte hou van enige noemenswaardige verwikkelinge terwyl die ondersoek voortgaan.

Daar is aanvanklik vermoed dat ʼn ontploffing moontlik by die verwerkingsfasiliteit plaasgevind het, maar BJK Industries het dit ontken.

Die hoenderverwerkingsfabriek was die afgelope ruk om al die verkeerde redes in die nuus te midde van groot ontevredenheid oor die stank wat die fabriek glo in Greylingstad en omliggende gebiede veroorsaak en moontlike besoedeling wat deur die fabriek veroorsaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.