Twee gewelddadig vermoor en buite hul huise aangetref, een vas

Argieffoto: Kent Williamson

Twee mense is die afgelope naweek dood buite hul huise aangetref in Mpumalanga.

Kol. Mtsholi Bhembe, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn 42-jarige vrou se liggaam is Saterdag in ʼn puttoilet aangetref.

Volgens hom het die polisie in Pienaar omstreeks 11:00 ʼn wenk ontvang van ʼn moord wat in Newscom in Nelspruit gepleeg is.

“Die vermoorde vrou se stiefseun beweer hy het die oggend by die huis gekom en die deur van die huis wawyd oop aangetref, met bloed oral in die huis. Hy het toe glo buite gaan soek en haar in die puttoilet aangetref,” het Bhembe gesê.

Volgens Bhembe is die beweerde moordwapen vol bloed binne die huis aangetref.

Die polisie is tans op soek na Timothy Bhila (56) wat hulle met die ondersoek sal kan bystaan.

Nog ʼn verdagte (30) is Saterdag in Kanyamazane vasgetrek in verband met die moord van ʼn 25-jarige man wat Vrydag dood buite sy huis aangetref is.

“Twee van sy bure het die saak onder die polisie se aandag gebring. Ná ʼn kort ondersoek kon ons vasstel een van die bure is die verdagte in die saak. Hy het glo ʼn ysterstaaf gebruik om die man dood te slaan,” het Bhembe gesê.

Tirelo Mohlala (30) het Maandag in die Kanyamaze-landdroshof verskyn op ʼn klag van moord en sal Dinsdag in die Kabokweni-landdroshof verskyn vir ʼn formele aansoek om borgtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

snoefie ·

daar word nie n verband genoem nie Theresa. how kan daar self net n borgverhoor wees vir n vermeende moordenaar maar n “rassis”word maande lank sonder borg aangehou? how kan die regte misdaad van Suid Afrikaners dan n verrassing wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.