Twee in KZN vas oor kinderpornografie

WAARSKUWING: Hierdie berig bevat inhoud wat sommige lesers kan ontstel.

Twee middeljarige mans is die afgelope week in verband met die besit, vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem. (Foto: SAPD)

Twee middeljarige mans is die afgelope week in verband met die besit, vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem.

Dié inhegtenisnemings is deel van ʼn grootskaalse gesamentlike operasie tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Amerikaanse departement van binnelandse veiligheid om dié misdrywe te stuit. Die gesamentlike taakspan het verlede jaar 11 verdagtes in die Wes-Kaap en Gauteng in hegtenis geneem, wat die aantal inhegtenisnemings op 13 te staan bring.

Volgens brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, het die polisie se eenhede vir kinderbeskerming en elektroniese misdaadondersoeke die jongste verdagtes in Umbilo opgespoor.

ʼn 62-jarige man is Woensdag (24 April) in hegtenis geneem en het duisende pornografiese foto’s en video’s van kinders in sy besit gehad. Op een van sy elektroniese toestelle het die polisie op foto’s afgekom van kinders wat seksueel misbruik en mishandel word, aldus Mathe.

Tydens die klopjag het die departement van maatskaplike ontwikkeling ʼn sesjarige kind en ʼn vier maande oue baba van dieselfde perseel verwyder as waar die verdagte woon.

Die Dierebeskermingsvereniging is ook ontbied om ʼn verwaarloosde kat en hond by die betrokke eiendom te verwyder.

Tydens ‘n klopjag het die departement van maatskaplike ontwikkeling ʼn sesjarige kind en ʼn vier maande oue baba van dieselfde perseel verwyder as waar een van die verdagtes woon. (Foto: SAPD)

Volgens Mathe het die man reeds in die Pinetown-landdroshof verskyn.

Nog ʼn verdagte, ʼn 58-jarige man, is die vorige dag (23 April) ook in verband met kinderpornografie in hegtenis geneem.

Die polisie het nie net honderde seksuele foto’s en video’s van kinders gevind nie, maar ook foto’s en gesprekke wat oor die misbruik van seuns handel.

Mathe sê dié gesprekke op die verdagte se toestel het onder meer aangedui dat seuns beskikbaar is om seksuele gunste teen R2 500 te doen met die opsie om die seuns te bedwelm.

Die man het Donderdag in die hof verskyn en bly in aanhouding.

“Die staat sal borgtog in albei sake teenstaan,” sê Mathe.

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, het die taakspan vir hul toewyding geloof.

“Om in die besit van kinderpornografie te wees, toegang daartoe te verkry, dit af te laai, te versprei, vervaardig, besigtig of te fasiliteer is ʼn misdaad,” het Masemola gesê.

“Die verdagtes sal op hierdie aanklagte teregstaan en ons sal op die spoor bly van nog verdagtes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Melanie ·

Mag ons Vader jul genadig wees, alhoewel ek as mens nie dink jul verdien dit nie!!

pieterweskaap ·

Die sielkundige skade wat daardie misbruikte kinders aangedoen is, sal hulle vir die res van hul lewens bybly.
Daardie sielsiek misdadigers behoort lewenslange tronkstraf opgelê te word.

Ronél ·

Mag hulle ‘n swaar lewe in die tronk ervaar…………..

Stofbakkies ·

Sluit hulle asb toe en laat hulle nooit weer vry nie. Die oordeel kom ons nie toe nie, maar hulle mag nooit weer naby ‘n kind kom nie. Daai arme kinders moet vir die res van hulle lewens met die letsels leef, ek hoop hulle kry goeie ondersteuning om te help met die trauma.

Nici ·

Baie mans raak verslaaf aan pornografie en gaan af totdat hul by die misbruik van kinders en diere uitkom. Verbied pornografie ingeheel of hierdie probleem gaan groei soos meer en meer seuns verslaaf raak. Dis tyd dat die samelewing veiliger is vir kinders.

Marieta ·

Strenger strawwe moet bewillig word vir hierdie skuim! Ek wens die doodstraf kon op hulle bedien word. Vir nou voel ek dat hierdie persone deeglik gelys moet word en dat hulle die owerhede moet verwittig indien hulle verhuis of reis. Hulle moet ook glad nie in enige poste aangestel word waar hulle toegang tot kinders het nie. Ek dink nie jy kan hulle reabiliteer nie en sou hulle eerder heeltemal uit die samelewing wou verwyrder, Ons sit met te veel stukkende mense a.g.v. misdadigers se menseregte wat geeër moet word.

Wielspore ·

Baie min van hierdie soort oortredings word aangemeld uit vrees vir openbaar making. Ouers se afwesigheid by hulle kinders se opvoeding maak ook die kinders meer vatbaar om in die net vasgevang te word. My kleinseun het ‘n maat wat in ‘n ouerhuis groot word wwar die pa heeldag drink en die ma haar hande afwerk om vir die gesin te sorg. Die arme kind is so vatbaar vir invloed omdat hy homself of deur sy vriend grootgemaak word. Ek en my vrou ontferm ons oor die kind maar hy kuier net nou en dan by ons kleinseun. Ouers se nalatigheid is die grootste oorsaak van kinders wat mishandel word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.