Twee kom om in Paarl-brand

(Foto: Drakenstein Farm Watch/Facebook)

Twee persone is Saterdag dood tydens ʼn brand in Groenheuwel in die Paarl.

Die privaat Drakenstein Farm Watch se brand- en reddingsdiens is die oggend omstreeks 02:30 deur ‘n Fidelity ADT-beampte na die toneel ontbied waar ‘n huis in ligte laaie gestaan het.

“Die versoek was spesifiek vir DFW se brandbestrydingsvragmotors, omdat watertoevoer om die brand te bestry skynbaar ʼn kwessie was vir die brandbestrydingspanne wat reeds op die toneel was,” het DFW in ʼn verklaring gesê.

Sake is bemoeilik vir die plaaslike brandweer deur ontstoke inwoners wat moes toekyk hoe hul besittings deur die brand verwoes word. Hulle was kwaad oor ʼn gebrek aan ekstra water om die brand te bestry.

“DFW se bevelvoerder aan diens, D. Lynch, het dadelik ʼn span byeengeroep en hulle was binne minute op pad na die toneel. Die plaaslike brandweer is deur die tenkervragmotor bygestaan met water en die span het saam gehelp om die brand te bestry.”

DFW-lid en vrywilliger-brandbestryder N. Joostenberg het in ʼn stadium puin en staalplate geskuif om verder die brand te bestry toe hy ʼn gruvonds gemaak het van ʼn slagoffer wat in die brand omgekom het.

Die polisie is na die toneel ontbied toe dit veilig was vir hulle om te nader en hulle het op ʼn tweede slagoffer afgekom.

“Ons betuig ons innige meegevoel aan die naasbestaandes van die oorledenes en diegene wat hul besittings verloor het,” voeg DFW by. “Maar nog meer belangrik vra ons die publiek en omstanders om nie met brandbestryders of reddingspersoneel op die toneel te stry of hulle te verhinder om hulle taak te doen nie. Wees gerus dat die spanne wat reageer hoogs gemotiveerd is en soms ondanks ʼn gebrek aan hulpbronne en materiaal, of nog erger, waterbronne soos brandweerkrane wat doelbewus vernietig of ontwrig is, sal hulle hul bes doen om lewens en eiendom te red.”

DFW se brand- en reddingspanne met hul vloot vragmotors en ander voertuie staan gereeld die gemeenskap en owerhede by met dié tipe rampe en versoek dat hulle ook dadelik in kennis gestel sal word aangesien tyd die belangrikste faktor is tussen sukses en mislukking. ʼn Strukturele brand verdubbel elke 30 sekondes in krag. Kontak DFW by 0860 666 662.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.