Twee kritiek beseer in vliegtuigongeluk

(Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Twee mense is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal opgeneem nadat ʼn ligte vliegtuig Saterdagmiddag in ʼn veld buite Alldays in Limpopo neergestort het.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, was twee mense in ʼn private vliegtuig op pad na die Rand-lughawe toe die vliegtuig meganiese probleme ervaar het.

Paramedici is omstreeks 17:30 in kennis gestel dat die vliegtuig geval het.

“By paramedici se aankoms op die toneel was Rocket Air-ambulansdienste reeds op die toneel, besig om die twee mense te assesseer,” bevestig Meiring.

Meiring sê ʼn vrou het brandwonde regoor haar liggaam opgedoen, terwyl ʼn man brandwonde aan sy arm opgedoen het. Albei was in ʼn ernstige toestand.

“Paramedici het die pasiënte op die toneel behandel voordat hulle na ʼn private hospitaal geneem is vir verdere mediese behandeling.”

Meiring sê volgens inligting het die man eerste uit die brandende vliegtuigwrak geklim en daarna die vrou uitgehelp. Hy het toe by ʼn boer op ʼn nabygeleë plaas om hulp gaan soek en die boer het toe die man se seun gekontak.

“Die seun kon met ʼn ander ligte vliegtuig na die ongelukstoneel vlieg. Hy het die man en vrou opgetel en hulle na paramedici by die Rand-lughawe geneem.”

Die ongeluk word tans ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.