Twee met gekaapte voertuie agter tralies

Die voertuie is vroeër gekaap. (Foto: SA Polisie)

Twee verdagtes verskyn na verwagting Maandag in die landdroshof in Vereeniging nadat hulle in besit van twee luukse voertuie wat vroeër gekaap is, betrap is.

Die twee, onderskeidelik 35 en 40 jaar oud, staan tereg op aanklagte van die besit van ʼn gekaapte voertuig, asook die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder in Gauteng, sê ʼn multidissiplinêre taakspan het die twee ná ʼn kaping Woensdag aangekeer.

“Die motoris is glo ʼn paar uur lank aangehou en later deur die verdagtes vrygelaat,” het sy gesê.

Die span het Donderdag op ʼn huis in Sharpeville toegeslaan en die slagoffer se Mercedes-Benz GLC en ʼn Mercedes-Benz, wat in Desember as gekaap by die Dawnpark-polisiestasie aangemeld is, aangetref.

Peters sê ʼn deursoeking van die voertuie en die perseel het ook tot die beslaglegging van 10 vuurwapens, waaronder ʼn AK47, meer as 180 patrone van verskillende wapens, plofstof, ʼn seinversteurder en huisbraaktoerusting gelei.

Verskeie vuurwapens is ook gevind. (Foto: SA Polisie)

“Verdere ondersoek word gedoen om vas te stel of die verdagtes en die vuurwapens met ander geweldsmisdaad in die provinsie verbind kan word. Die moontlikheid dat nog inhegtenisnemings met verloop van die ondersoek kan volg, word nie uitgesluit nie,” het sy gesê.

Verskeie polisie-eenhede asook lede van private veiligheidsmaatskappye was by die operasie betrokke.

Genl.maj. Tommy Mthombeni, waarnemende provinsiale polisiehoof, het die span geloof vir dié bydrae om die voorkoms van ernstige en geweldsmisdaad soos kaping, huis- en sakerooftogte te verminder.

“Diegene wat dié en alle verwante sake ondersoek, moet ʼn waterdigte saak saamstel om ʼn geslaagde skuldigbevinding en vonnis in die hof te verseker. Die items waarop die span beslag gelê het, is ʼn aanduiding van die omvang van die geweld waarby die verdagtes moontlik betrokke is terwyl ons gemeenskappe geterroriseer word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

FM ·

Dis nog puik nuus vir hierdie dag.

TROTS op julle.

Dit laat mens moed skep.

Blomme ·

Om te dink mense werk hard om te bekom wat jy graag wil hê en jou hard verdiende geld te gebruik vir jou eie gerief soos ń goeie motor… dan kry jy rowers wat aas asof dit hul reg is. Kapings het wraggies algemeen geraak en ń vorm van inkomste vir skurke. Waar gaan dit eindig? Welgedaan aan die gereg wat hierdie skuim uitgesnuffel het maar ek vermoed dit is slegs die top van die ysberg.

Gert ·

Wanneer word hulle op borg vrygelaat?
Hierdie tipe moet nooit weer vry asem haal nie. Ek hoop dat al hulle makkers spoedig aangekeer word en laaank gaan sit.

Marie ·

10 vuurwapens? Dan wil Hulle hé ons moet ons wapens wat Se lose die verval het inhandig? Grap

Boerkind ·

Hierdie berig gaan oor twee voertuie…. daar is egter ‘n LAND gekaap en dieselfde boewe bestuur dit steeds….

Yvonne ·

Boerkind….stem saam daar gebeur niks met die kapers nie…hulle weier net eenvoudig om voor Zondo te verskyn..wat so by so net geldmors is…..waar is die howe etc. om arrestasies te doen en op te tree…..net mooi niks

Aai ·

Transito rower se voertuie daai en die wapens wat hulle gekry het .Ondersoek dit maar goed.

Boer ·

Dit is beter kry die regte krimenele en sluit hulle toe los die wat poeier melk vir sy kind gaan koop,los die wat drank verkoop, los die wat in die aande ry en kry die regte boewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.