Twee polisiemanne en makkers vas oor ontvoering

Argieffoto

Vier verdagtes, insluitend twee polisiebeamptes, is in hegtenis geneem en sal na verwagting in die Krugersdorp-landdroshof verskyn op aanklag van ontvoering, uitbuiting en dat hulle hulself as polisiebeamptes voorgedoen het.

Kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagtes is in hegtenis geneem deur beamptes wat in die Randfontein-sakedistrik op roetinepatrollie was. Die mans word daarvan beskuldig dat hulle ʼn 29-jarige man ontvoer het.

“Die polisie is in kennis gestel van ʼn voertuig wat roekeloos in Randfontein-gebied ry. Die polisiebeamptes het die 29-jarige man gered van ontvoering deur vier mense, insluitend twee polisiebeamptes, wat geld van hom wou bekom vir ʼn vervalsde verkragtingsklag,” het Dlamini gesê.

Die slagoffer, na bewering ʼn begunstigde van die Padongelukkefonds, is deur ʼn vrou verlei en hy is na ʼn huis gelok. Sy wou hom glo later oorreed om met haar seks te hê. Tydens die proses het vier mans, wat hulself as polisiebeamptes voorgedoen het, op die toneel verskyn en vir die man gesê hulle gaan hom in hegtenis neem op aanklag van verkragting. Hulle het hom geboei. Hy het gehoor hy sal aangehou word, maar as hy ʼn beduidende bedrag geld sou betaal, dan sal hy vrygelaat word.

“Die slagoffer was agterdogtig oor die verdagtes. Hy het die bestuurder se aandag afgetrek en die bestuurder het beheer verloor oor die motor. ʼn Oplettende polisiebeampte het ingegryp en die wit VW Polo, sonder nommerplate, voorgekeer. Die verdagtes is in hegtenis geneem.”

Die polisie is nog op soek na die vrou wat na bewering die man na die huis gelok het waar hy van verkragting beskuldig is.

Lt.genl. Elias Mawela, provinsiale polisiekommissaris, het op die inhegtenisnemings gereageer. “Ek is bly dat ons huis skoonmaak. Dit is beter om slegs ʼn paar skoon polisiebeamptes oor te hê as ʼn groep kriminele.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Sarel ·

Ek sal graag van die Kommisaris, wat wil huis skoon maak, weet wie het die mense indiens geneem .

Kobie Welgemoed ·

Ek voel elke polisieman se CV is beskikbaar. As hulle ernstig is om ‘n beter polisiediens te hê. Kyk na die skool prestasie en doen ‘n oudit tov van ‘n kriminele agtergrond. Verseker gaan daar nie 10% polisieman die toets slaag nie. Doen dit sommer vir die parlements lede ook.

Marianne ·

Well done vir die polisie beampte wat op regte tyd op regte plek was en wakker was!!!!al is dit deel v jul werk waardeer ons jou!!dankbaar vir die man wat gered is uit die kloue v d ……

Gert van Wierdapark ·

Aan kreatiwiteit buite die SAP-werkplek ontbreek dit nie by sekere be-amptes nie!?

sweis ·

Die meerderheid polisie is so korrup as kan kom en dit is die grootste rede hoekom misdaad so erg is,my tuinhulp vertel my dat die onwettige immigrante geteiken word deur die polisie en hulle moet glo n boete betaal of hulle word gearesteer.

marous ·

Gaan hul kollegas by die hof in hul honderde opdaag om te eis dat daar geen borg toegestaan word nie ? Gaan die kommisaris getuig vir die hoogste straf denkbaar as daar ‘n skuldig bevinding is ?

Swannie ·

Daar is `n fout in die berig.

“…. vier mans , wat hulself as polisiebeamptes voorgedoen het…”

Slegs TWEE het hulself as polisiebeamptes voorgedoen, aangesien die ander twee werklik in diens van die SAPD ( of liewer Suid Afrikaanse Moniterings Eenheid) is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.