Twee sterf toe ambulans, sportnutsvoertuig reg van voor bots

(Foto bloot ter illustrasie: Departement van vervoer in Limpopo)

Die bestuurders van ʼn ambulans en sportnutsvoertuig is Saterdag op die R81 by die Lemondokop-draai in Limpopo dood nadat die voertuie reg van voor met mekaar gebots het.

Thilivhali Muavha, woordvoerder van Phophi Ramathuba, die LUR vir gesondheid in Limpopo, sê die ambulans het op ʼn ongelukstoneel by Bellevue gereageer toe die botsing plaasgevind het.

“Tragies genoeg het albei bestuurders hul lewe met die impak van die botsing verloor. Die ambulansassistent sowel as drie pasiënte wat ten tyde van die ongeluk in die ambulans was en drie insittendes van die sportnutsvoertuig het die ongeluk oorleef.

“Al die oorlewendes ontvang tans mediese behandeling by verskeie hospitale,” sê Muavha.

Ramathuba sê die tragiese ongeluk het haar swaar getref en sy wil graag persoonlik haar ondersteuning aan die moedige individue “wat dapper deur hierdie moeilike tyd veg” bied. Sy sal dus ʼn persoonlike besoek by die ambulansassistent in die hospitaal aflê.

Volgens Muavha is Ramathuba se besoek aan die hospitaal ʼn gebaar van solidariteit en waardering vir die toewyding en opofferings wat deur nooddienspersoneel regoor die provinsie gemaak word.

“Die voorval dien as ʼn herinnering aan die risiko’s en uitdagings wat noodhulppersoneel en mediese personeel in die uitvoering van hul pligte in die gesig staar,” sê Muavha.

“Die departement van gesondheid betuig sy innige meegevoel met die families en geliefdes van die oorledenes en bevestig weer sy verbintenis om almal te ondersteun wat deur hierdie tragedie geraak word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.