Twee swaar gestraf na moord op Barrydale-vrou

Erna Gericke (66). (Foto: Facebook)

Twee jong mans is twee jaar na die moord op Erna Gericke (66) tot lang tronkstraf gevonnis.

ʼn Grootskaalse soektog is in Maart 2021 na Gericke van stapel gestuur nadat sy op ʼn Sondagmiddag in die omgewing van Rondomskrik, naby Barrydale, gaan stap en toe spoorloos verdwyn het.

Gericke en haar man, Bremer, het op Barrydale afgetree. Bremer Gericke was jare lank die leraar van die NG Kerk Stellenberg.

Daar is in die vroeë oggendure van 22 Maart op Gericke afgekom, ʼn paar kilometer van die parkeerterrein op die Waterval-staproete nadat haar man haar as vermis aangemeld het. Paramedici het haar op die toneel dood verklaar.

Gericke se voertuig was ook nie meer in die parkeerterrein nie en dit is later verlate in Tradouwshoek gevind. Twee verdagtes van ʼn plaas in die omgewing is kort na mekaar in hegtenis geneem in verband met die motordiefstal.

In daardie stadium is “geen gemene spel” oor Gericke se dood vermoed nie. Die nadoodse ondersoek het egter vasgestel dat Gericke met ʼn swaarkalibergeweer in die hand geskiet is. Barrydale-speurders hul ondersoek uitgebrei en ʼn .303-geweer gevind wat glo gebruik is om Gericke mee aan te val en te skiet.

John Lee Bron (20) en Jacobus Simon Skondo (26) is intussen albei 20 jaar tronkstraf opgelê vir die moord op Gericke. Hulle is tot bykomende tronkstraf gevonnis vir motordiefstal en ander aanklagtes.

Lt.genl. Thembisile Patekile, polisiekommissaris in die Wes-Kaap, het die ondersoekbeamptes en aanklaerspan geloof vir hul toewyding wat gelei het tot die inhegtenisneming en daaropvolgende skuldigbevinding van die twee mans.

“Ons is tevrede met die vonnisse wat in hierdie saak opgelê is. Ons hoop dat dit as afskrikmiddel sal dien vir potensiële misdadigers om soortgelyke oortredings te pleeg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.