Twee vas ná beamptes ambulans voorkeer

Argieffoto

ʼn Ambulansbestuurder en die eienaar van die betrokke private nooddiensmaatskappy sal Maandag in ʼn Gautengse landdroshof verskyn op aanklagte van onderskeidelik roekelose bestuur en bedrog.

Dit kom nadat lede van die nasionale verkeerspolisie ʼn ambulans op die R562 in Olifantsfontein voorgekeer het omdat die bestuurder op roekelose wyse deur die verkeer gevleg het.

Simon Zwane, woordvoerder van die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC), sê die bestuurder het ook nie stilgehou toe hy aanvanklik opdrag gegee is om dit te doen nie. Nog verkeersbeamptes is ontbied en die ambulans is uiteindelik tot stilstand gedwing waarna die bestuurder in hegtenis geneem is.

“Verkeersbeamptes het vasgestel die bestuurder het ook nie ʼn professionele bestuurslisensie nie,” sê Zwane. “Toe die eienaar van die ambulans opdaag, is hy ook in hegtenis geneem. Hy sal van bedrog aangekla word omdat die bedryfspermit wat op die voertuig vertoon was, ongeldig is.”

Die bestuurder en eienaar word tans albei by die Olifantsfontein-polisiestasie aangehou.

“Die bestuurder sal aangekla word van roekelose en nalatige bestuur, bestuur sonder ʼn professionele bestuurslisensie, onbedagsame bestuur en versuim om ʼn opdrag van ʼn verkeersbeampte te gehoorsaam,” sê Zwane.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

JV ·

Wonderlik, spits julle nou toe op al die Taxis wat so roekeloos deur die verkeer vleg, in die noodbane jaag en op die sypaadjies ry. Moenie hulle net stop nie, arresteer hulle voor die voet.

Pieter ·

Jaaa, dis ‘n verskriklike oortreding om ‘n spietkop te ignoreer. Haha. Gaan vang liewer die moordenaars asb.

aj ·

WELGEDAAN!

Elke roekelose misdadiger wat van die land se paaie afgeneem word … is ‘n stap in die regte rigting.

Doen so voort!

Leon ·

Die verkeersbeamptes kannie die taxis arresteer nie, want die taxies behoort aan van hulle.
Die ambulansdiens is dalk kompetisie vir die verkeersbeamptes of hulle vriende se ambulansdiens.

hannelie ·

Dit is nie net op die Olifantsfontein weg nie. In die middag op pad huis toe jag einste ambulanse van die Olifantsfontein weg na die P91 in en jaag dan in aankomende verkeer in daardie motoriste moet maar net uit die pad kom.

wonder ·

Ek wonder nou net wat sal gebeur as daar n noodgeval in die ambulans is? Maar ja deesdae kan mens nie net aanneem nie ne. Te veel skurke, kan netsowel n ambulans gewees het waar die oorspronklike bestuurder dood agterin le.

Maljan ·

Of die ambulans kan oppad wees na die wederhelf se werksplek om op te laai.

Mia Muis ·

Ek stem!! Hoe weet mens deesdae dat dit wel ware en werklike verkeersbeamptes is? Met die dat rowers sommer deesdae in enige veiligs-uniform ook is. Hoeveel keer is daar al misdade gepleeg deur “sogenaamde polisie”. Skelms wat die uniforms misbruik om misdade te pleeg. Ek sal net graag wil weet wat ‘n mens te doen staan in sulke omstandighede. Hou jy maar aan ry tot by die naaste SAPS kantoor om daar verseker te wees hulle is “legit”??

Lynette ·

Pieter….hou op belaglik wees! Iemand wat roekeloos deur die verkeer vleg IS mos n potensiële moordenaar? Wag tot JOU vrou en kind deur n onverskillige bestuurder sonder lisensie doodgery word….DAN sal jy miskien met my saamstem……

Sandra ·

Ek het op goeie gesag verneem, en het al saamgery, dat ‘n ambulans met sirens aan, net 20km oor die spoedgrens mag aan.

Neels ·

Baie goed gedoen Verkeerspolisie! Dit is nou ook tyd dat bestuurders edm. van die verskeie insleepdienste ook sulke wetstoepassing ondervind ….. so 2 weke gelede amper van die pad gedwing deur so ‘n “twit”. En, toe ek stop by die ongelukstoneel 2 motors en 7 (!) insleepvoertuie, is ek met gevloekery begroet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.