Twee vas wat glo vermiste stapper se motor steel

(Argieffoto: pixabay)

Twee mans is aangekeer vir die diefstal van ‘n stapper se motor, maar geen gemene spel word in hierdie stadium in verband met haar dood vermoed nie.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder in die Suid-Kaap, sê Erna Gericke (66) het Sondagmiddag gaan stap en haar voertuig in ʼn parkeerarea vir stappers naby Rondomskrik in Barrydale geparkeer.

Haar man het haar as vermis aangemeld toe sy teen 18:00 steeds nie tuis was nie.

“ʼn Volskaalse soektog bestaande uit verskeie polisie-eenhede en lede van die gemeenskap is kort daarna van stapel gestuur,” sê Pojie.

Lede van die soekgeselskap, waarvan Gericke se dogter deel was, het haar liggaam gister tussen 02:00 en 03:00 ʼn paar kilometer verder op die Waterval-staproete aangetref.

“Paramedici wat daarna op die toneel aangekom het, het die slagoffer dood verklaar.”

ʼn Nadoodse ondersoek sal vandag gedoen word om die moontlike oorsaak van dood te bepaal.

“In hierdie stadium word geen gemene spel vermoed nie.”

Pojie sê die polisielede het intussen die soektog na Gericke se voertuig voortgesit nadat dit spoorloos uit die parkeerarea verdwyn het. Daar was aanduidings op die toneel dat die voertuig vermoedelik gesteel is.

“Danksy die waaksaamheid van die plaaswag en landelike veiligheidstrukture is inligting oor waar die voertuig is, gedeel.”

Die voertuig is verlate agter ʼn koppie naby Tradouwshoek aangetref. Die voorste venster aan die regterkant was stukkend geslaan.

Twee verdagtes van ʼn plaas in die omgewing is kort na mekaar in hegtenis geneem.

“Die spaarsleutel van die Citroen P3 is in besit van een van die verdagtes gevind wat hulle met die diefstal van die voertuig verbind.”

Albei word aangekla van motordiefstal. Hulle verskyn na verwagting môre in die Barrydale-landdroshof.

Die provinsiale polisiebestuur het die samewerking tussen die polisie, inwoners en plaaswag geloof om Gericke en haar voertuig op te spoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eiervrug ·

Ek verstaan nie waar hulle die spaarsleutels sou kry tensy hulle in aanraking vekom het met die oorledene nie??

SomeOne ·

my gedagte ook, moenie my vertel ‘n vrou van 66 gaan alleen stap nie, sys daarheen gelok, gevra en die 2 wat die sleutel het, het net vir bluff die motor se ruit gebreek

JohanR ·

Jy kan nie eers meer alleen vir ‘n buite lig stappie in Suid Afrika gaan nie. Hier is Kaapstad lewe hulle op die berg en is aan die uitkyk om te beroof en te hardloop. Is nie Boland Bank wat ons moet bedank nie! My klein Tazer is altyd saam met my…….ek wil hom of hulle, 4000000 volts gee dat hy of hulle hulle broeke bevuil! Lankal nie meer Mr Nice Guy nie!

Megan Swart ·

Dagsê cha
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Casper ·

As geen gemene spel vermoed word nie kan daar net een verduideliking wees,selfmoord.Die spaarsleurel was dus seker in die voertuig gewees en die oorspronklike by die oorledene.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.