Twee vroue is Vrydag dood en 14 persone beseer toe ʼn taxi en ʼn vragmotor op die Holfonteinpad in Etwatwa, Benoni, gebots het.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici het omstreeks 12:15 by die toneel opgedaag waar die taxi in die middel van die pad gestaan het. Die vragmotor het ʼn ent verder langs die pad gestaan.
“Twee vroue was nog vasgekeer in die wrak van die taxi. Hulle het ongelukkig reeds aan hul beserings beswyk,” het Meiring verduidelik. Hulle is op die toneel dood verklaar.
Die bestuurder van die taxi was ook in die wrak vasgekeer. Die brandweer moes van meganiese toerusting gebruik maak om hom te bevry.
“Die taxibestuurder en twee ander vroue het kritieke beserings opgedoen en 11 persone het geringe tot matige beserings opgedoen,” het Meiring bygevoeg. Hulle is na verskeie hospitale geneem vir verdere behandeling.
Die bestuurder van die vragmotor is nie beseer nie.
Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie. Owerhede stel ondersoek in.