Uie, wortels maak kosmandjie steeds duurder

(Foto: Maroela Media)

Uie, wortels, aftreksel, piesangs en botterskorsie is dalk nie die grootste items in ʼn kosmandjie nie, maar dit is beslis baie swaar op die sak.

Die jongste Household Affordability Index-verslag deur die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group (PMBEJD) wys dat die pryse van dié voedselitems in Mei met 5% of meer gestyg het.

Die prys van botterskorsie het met 14% toegeneem, terwyl die prys van uie en wortels met 12% gestyg het. Aftreksel en piesangs is 5% duurder.

Verder het die prys van sout, hoenderlewers en spinasie met 4% toegeneem. Mieliemeel, kerriepoeier, sop, tee, volroommelk, eiers en grondboontjiebotter was in Mei 3% duurder, terwyl die prys van hoenderpote en polonie met 2% gestyg het.

Statistieke Suid-Afrika se jongste Verbruikersprysindeks vir April 2023 wys dat hooflyninflasie op 6,8% staan, terwyl inflasie vir nie-duursame goedere onderskeidelik 11,3%, 10,6% en 9,2% was. Kosinflasie het ʼn dubbelsyferstyging van 14,3% ondervind.

Die gemiddelde prys van ʼn kosmandjie sou inwoners van Johannesburg, Durban, Springbok en Mtubatuba in Mei vanjaar meer as gewoonlik kos, terwyl die prys van ʼn gemiddelde kosmandjie in Kaapstad en Pietermaritzburg gedaal het.

In Johannesburg het die prys van ʼn kosmandjie met R43,80 (0,9%) toegeneem. Vergeleke met verlede jaar dieselfde tyd het die prys met R438,36 (9,5%) tot R5 064,87 toegeneem.

Die maandelikse verhoging van ʼn kosmandjie in Durban, Springbok en Mtubatuba was onderskeidelik R159,92 (3,3%), R153,95 (2,9%) en R93,92 (1,8%). Die jaarlikse styging – tussen Mei 2022 en Mei 2023 – was onderskeidelik R330,99 tot R5 040,59; R564,10 tot R5 491,46 en R546,41 tot R5 237,73.

In Kaapstad het die prys van ʼn kosmandjie met R64,85 (-1,3%) gedaal, hoewel dit tussen Mei 2022 en Mei 2023 met R580,48 (13,1%) tot R5 025 toegeneem het.

Die Pietermaritzburg-kosmandjie was in Mei R27,56 (-0,6%) goedkoper, maar het die afgelope jaar met R478,03 (10,7%) tot R4 941,98 gestyg.

Algemene werkers kry swaar

Die minimum loon in die land staan tans op R25,42 per uur en R203,36 vir ʼn agt uur lange werkdag. Met 22 werksdae in Mei was die maksimum minimum loon vir ʼn algemene werker R4 473,92 – dit is minder as die prys van ʼn gemiddelde kosmandjie.

Dié minimum loon moet boonop werkers se afhanklikes ook onderhou. Die gemiddelde swart Suid-Afrikaner het vier afhanklikes.

Sou ʼn werker se minimum loon dus tussen vier mense verdeel word, beteken dit daar is R1 118,48 per afhanklike. Dit is onder die broodlyn van R1 417 per persoon per maand.

Luidens die verslag het ʼn basiese voedsame kosmandjie vir ʼn gesin van vier in Mei R3 535,64 gekos.

Gegrond op die prys van elektrisiteit en vervoer in Pietermaritzburg, bestee algemene werkers 53% van hul minimum loon aan dié uitgawes.

Eers daarna word kos gekoop.

Dit beteken daar is veels te min geld oor om genoeg voedsame kos aan afhanklikes te voorsien, aangesien dit maar R525,60 per persoon per maand vir kos oorlaat; veel minder as die broodlyn van R663.

Die verslag dui verder aan dat dit in Mei R901,19 gekos het om ʼn voedsame dieet vir ʼn kind te verskaf. Daar was ʼn maandelikse toename van R9,06 en ʼn jaarlikse toename van R97,74. Die kindertoelaag was in Mei R500, wat 25% onder die broodlyn van R663 is.

Huishoudelike en persoonlike higiëne-items

Die indeks vir huishoudelike en persoonlike higiëne-items dui op ʼn toename van R17,35 (1,9%) vir Mei, en ʼn jaarlikse styging van R138,04 (17,1%). Dit bring die gemiddelde koste van dié items in Mei op R945,34 te staan.

Dit is alles produkte wat nodig is vir basiese higiëne, maar ding ook mee met noodsaaklike voedselitems.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Rooi rissie ·

Alles in Suid Afrika is belaglik duur en die mense verarm meer en meer by die minuut terwyl die regering net skep en niks voel vir die land se mense nie. Die regering voel nie eers iets vir ” our people ” nie. Selfsugtigheid van die regering is aan die orde van die dag mos.

Misky ·

Die prys van skoonmaakmiddels het ook die hoogte ingeskiet. Ek was stomgeslaan toe ek onlangs net skoonmaakmiddels gaan koop het en dit was boonop by Shoprite wat goedkoper is as die meeste ander kettingwinkels.

Papsak ·

Wel alles skiet die hoogte in in SA eerste land met sulke belaglike hoe pryse net te vinde in SA belaglik en sit op by die uur hierdie winkels laat nie op hulle wag nie flip of jy n bestaan kan maak

Samuel ·

Mens kan net wonder waar alles gaan eindig. Ons het vanoggend paar stukkies kruideniersware gaan koop, maar weet nie wat om te vat en wat om te los nie. En ja, die prys van uie is skrikwekkend.

piet ·

Ek sien wel dat pryse oor die algemeen besig is om te stabiliseer en van die goed raak goedkoper (by Shoprite ten minste). Uie en wortels is egter beslis baie duurder, al vir ‘n paar maande lank.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.