Uitdagings stuit nie Kaap se eie Helen Keller

Jennifer (Jenny) Pretorius en haar gidshond, Kaine. Kaine is verlede jaar aan lewerkanker oorlede. (Foto: Verskaf)

Jennifer Pretorius, ʼn Kaapstadse vrou wat doof én blind is, se lewensreis herinner ʼn mens aan dié van Helen Keller – iemand wat nie toegelaat het dat ondenkbare uitdagings die kans op ʼn vol, betekenisvolle lewe stuit nie.

Pretorius, ʼn voormalige atleet wat in Vishoek woon, is doof gebore. Sowat 48 jaar later is sy ook as “klinies blind” gediagnoseer.

Nietemin het sy matriek met lof voltooi, 33 jaar lank in die Suid-Afrikaanse vloot gewerk en aan verskeie halfmarathons deelgeneem.

Nou, as 59-jarige, leer sy vir die eerste keer braille (blindeskrif), aangesien sy net 2% sig oorhet. Plaaslike én internasionale skenkers het reeds sowat R100 000 tot ʼn geldinsamelingsinisiatief bygedra om Pretorius in haar leerproses by te staan.

Pretorius is op sesjarige ouderdom na die Dominican Grimley-skool vir dowes in Kaapstad gestuur aangesien sy weens ontwikkelingsprobleme nie ʼn hoofstroomskool kon bywoon nie. Sy vertel dat die nonne by dié skool glo gehuil het omdat sy destyds nie haar eie naam kon uitspreek nie.

Jenny Pretorius het as jong volwassene verskeie halfmarathons voltooi. (Foto: Verskaf)

Sy het haar klasmaats egter binne twee jaar met behulp van spraakterapie ingehaal. Pretorius het van kleins af in akademie uitgeblink en ook ʼn liefde vir sport ontwikkel.

Lewensveranderende diagnose

Toe sy tien jaar oud was, het haar tennisafrigter opgemerk dat Pretorius met haar hand-oog-koördinasie sukkel.

ʼn Oogkundige het kolle in haar retinas gevind, maar kon nie ʼn diagnose daarvoor gee nie. Hoewel haar sig daarna voortdurend verswak het, het sy steeds tennis, krieket, netbal, pluimbal en hokkie gespeel. Sy het ook fietsgery.

“Niemand het besef hoe erg my oogtoestand was nie. Ek het net alles aangepak wat ek wou doen soos al die ander kinders, en my ouers het my aangemoedig om nuwe uitdagings aan te pak,” sê Pretorius.

Kort nadat sy matriek met lof voltooi het, is retinitis pigmentosa, ʼn ongeneeslike genetiese retinale siekte, by Pretorius gediagnoseer. Dié toestand veroorsaak onder meer nagblindheid en tonnelvisie.

Daar is gevolglik bevind dat sy, tesame met haar gebrek aan gehoor, aan Usher-sindroom ly.

ʼn Loopbaan in die vloot, sport

Haar onomkeerbare toestand het Pretorius nie gestuit om as ʼn burgerlike klerk by die Suid-Afrikaanse vloot aan te sluit nie. Hier het sy byna 33 jaar lank gewerk voordat sy in 2013 weens mediese redes ontslaan is aangesien haar sig drasties verswak het.

Sy het in haar jong volwasse lewe onder meer vir die Vishoek-atletiekklub gehardloop waar sy aan halfmarathons deelgeneem het. Sy het ook by die Glencairn Equestrian Centre perdgery. Pretorius was boonop gek oor fotografie.

Namate haar sig agteruitgegaan het, moes sy haar sport en stokperdjies die een ná die ander laat vaar. Sy sou dikwels val of in ongelukke betrokke raak.

Hoop in ʼn stil, donker wêreld

Nadat dokters Pretorius op ʼn lewe van algehele doof- en blindheid voorberei het, het sy in 2019 ʼn kogleêre inplanting ontvang wat haar gehoor gedeeltelik herstel het. In dié stadium het sy 57 jaar lank in doodse stilte geleef.

Jenny Pretorius as kleuter. Sy is doof gebore. (Foto: Verskaf)

Die inplanting, asook haar getroue gidshond, Kaine, het haar gehelp om haar onafhanklikheid gedeeltelik te behou en alledaagse uitdagings te oorbrug. Kaine is egter in Augustus 2021 ná agt jaar aan Pretorius se sy dood.

Dit sal nou sowat drie jaar neem voordat sy weer ʼn opgeleide gidshond kan kry.

“Hy was my oë en ore. Ons was onafskeidbaar. Hy het my talle kere gered wanneer ek op straat geloop het, veral wanneer ek paaie oorgesteek het. Met sy skielike afsterwe het ek onbevoeg, verlore, eensaam en kwesbaar gevoel. Hy het ʼn groot invloed op my lewe gehad en aan my onafhanklikheid en veiligheid gebied.”

Braille nou Pretorius se hoop

Om Pretorius se lewe effens te vergemaklik het haar jare lange vriendin, Debbie Holmes, ʼn geldinsamelingsveldtog op Back-a-Buddy van stapel gestuur om haar in haar Braille-leertog te ondersteun.

Pretorius kan nou glad nie meer gedrukte boeke en koerante lees nie.

Holmes meen ʼn toestel met die naam Braille Mantis Q40 sal Pretorius help om met haar geliefdes en die wêreld om haar in aanraking te bly. Dié sleutelbordtoestel, wat by ʼn slimfoon of rekenaar ingeprop kan word, kos egter sowat R56 000, wat die versending van die buiteland insluit.

Vriendinne Debbie Holmes en Jenny Pretorius. (Foto: Verskaf)

Sowat R100 000 is reeds op Back-a-Buddy ingesamel. Holmes kon dié geld gebruik om onder meer ʼn braille-etiketmaker, ʼn Dolphin-teksvergroter vir rekenaars, ’n braille- en skermleser-rekenaarprogram en ander toestelle aan te skaf. Sy wag egter nog op die Braille Mantis Q40. Enige bykomende geldskenkings sal gebruik word vir spraakterapiesessies wat sy tans nie kan bekostig nie.

“Jenny laat nie toe dat haar daaglikse stryd en uitdagings haar definieer nie. Sy het ʼn pragtige siel en ʼn vriendelike omgee-geaardheid. Ek het nog nooit iemand ontmoet wat so veerkragtig en so passievol oor die lewe is nie. Maak nie saak waardeur sy gaan nie, sy het altyd ʼn glimlag op haar gesig en is dankbaar vir elke dag. Ek hoop mense sal my ondersteun om Jen te help,” sê Holmes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AmY ·

Mense soos jý is die ware heldinne/helde en legendes.
Sterkte met alles wat jy aanpak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.