Uitstaande verslae vertraag Mafe-saak

Die saak teen Zandile Christmas Mafe is vir ses weke lank uitgestel. (Foto: Gianluigi Guercia/AFP)

Zandile Christmas Mafe, die vermeende brandstigter wat glo verantwoordelik is vir die reuseskade wat aan die parlementêre kompleks in Kaapstad aangerig is, se saak is vir ses weke uitgestel nadat die staat gevra het vir tyd om uitstaande ondersoekwerk af te handel.

Mafe se aansoek om borgtog is vroeër vandeesmaand van die hand gewys nadat hy op 2 Januarie in hegtenis geneem is.

Adv. Mervyn Menigo, staatsaanklaer, het aan die Kaapstadse landdroshof gesê verskeie forensiese verslae is nog uitstaande.

“Ons ondersoekspan wag vir strukturele ingenieurs om te sê of die nuwe Nasionale Vergadering-gebou veilig is vir hulle om met hul ondersoek te begin,” het Menigo gesê.

“Die span moet nog Mafe se selfoonontleding afhandel om te bepaal of nog mense betrokke was. Sekere leidrade moet opgevolg word, ʼn finale gedetailleerde verslag oor die videomateriaal is nog uitstaande en die ontleding van sy klere moet nog afgehandel word om vas te stel of daar enige brandversnelmiddel was.”

Die staat het vir ʼn twee maande lange uitstel gevra.

Mafe se regsverteenwoordiger, adv. Nikiwe Nyathi, het hierteen beswaar gemaak en drie weke voorgestel vir die ondersoek om afgehandel te word. Sy het aan die hof gesê dat Mafe steeds beoog om teen sy onsuksesvolle borgtogaansoek in die Kaapstadse hooggeregshof te appelleer en dat die verdediging steeds wag vir die hofrekord van die aansoek.

Volgens die staat is drie weke egter hopeloos te min vir die omvang van die werk wat nog gedoen moet word. Hy sê die vergadersaal moet eers veilig verklaar word voor die ondersoekspan met hul werk kan aangaan.

Landdros Ronel Olivier het die staat gelyk gegee en die saak tot 25 Maart vir verdere ondersoek uitgestel.

Mafe staan tereg op aanklagte van huisbraak met die doel om terreur en brandstigting te pleeg, en terreur, brandstigting en diefstal.

Die staat het vroeër aangevoer die motief vir die brand by die parlement spruit uit Mafe se “diepgewortelde politieke, ideologiese en filosofiese oortuigings” en sy wrewel teenoor die Suid-Afrikaanse regering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

casper ·

Lekker manier om ‘n persoon onder eindeloose arres te hou sonder feite ne !!!

007 ·

Ek wonder wie betaal die perd se regskoste? Hy was ‘n droster nou het hy die mooiste pak klere en ‘n selfoon ook. En hy bly in die staat se b&b. Sy pos wag seker vir hom in dieselfde gebou wat hy afgebrand het.

JohanR ·

Het amper verwag om te sien Dali Mpofu is sy prokureur! Hy was seker te besig om ‘n gat van homself te maak daar by die verkiesing vir ‘n nuwe hoofregter.

Jaco ·

Interessante saak dié: as ek nou die ANC se denkpatroon volg, sou ek nou dink die brandstigter by die parlement was ‘n wit rassistiese man vol apartheid en wat reaksionêr en teen transformasie is.
En daar is die brandstigter toe sowaar een van die ANC se eie rasgenote…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.