Universiteite se akademiese jaar begin later in 2021

Argieffoto (Foto: Unsplash/Pixabay)

Die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, het aangekondig dat universiteitstudente waarskynlik volgende jaar later as gewoonlik vir studies sal moet aanmeld – weens Covid-19.

Nzimande het die sluier gelig oor die departement van hoër onderwys se planne oor wanneer studente vanjaar en volgende jaar (insluitend 2021-eerstejaars) met hul studies kan begin.

Nadat studente almal tydens fase 5 van die grendelstaat moes tuis bly, is ‘n derde van die land se studente nou al terug op kampusse. Dit sluit die studente in wat op vlak 4 al kon terugkeer kampusse toe, te wete finalejaars wat kliniese ervaring moet opdoen soos mediese, tandheelkunde-, veeartseny- en verplegingstudente.

Tans is twintig universiteite reeds besig om die terugkeer van studente af te handel, insluitende alle finalejaarstudente wat in 2020 hul grade wil afhandel, alle studente wie se studies kliniese ervaring insluit, alle nagraadse studente wat laboratoriumwerk moet doen, ensovoorts.

Die universiteite wat nog besig is om studente-aankomste te finaliseer sluit in die Sefako Makgatho-universiteit (gesetel by die voormalige Medunsa buite Pretoria), die Universiteit van Fort Hare in Alice, die Mangosuthu- Universiteit van Tegnologie in Durban, die Walter Sisulu Universiteit (gesetel by die voormalige Universiteit van Transkei in Mthatha), die Tshwane- Universiteit van Tegnologie in Pretoria en die Vrystaatse Universiteit, gesetel in Bloemfontein.

Universiteite se huidige akademiese jaar sal weens die ontwrigting van die grendelstaat, in baie gevalle eers vroeg aanstaande jaar voltooi word, met kampusse wat dus eers later aanstaande jaar sal heropen. Elke universiteit se reëlings kan egter verskil.

Gratis internetdata vir studie-doeleindes word tans op groot skaal aan studente voorsien, maar Nzimande was geskok oor hoeveel studente die data-toewysing misbruik om flieks en pornografie af te laai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Prikkie ·

Regtig Blade, jy is “geskok”?

My magtag Blade, kom tog net by. Hoe het jy in die in die eerste plek geredeneer dat ‘n student nou moet “klasloop” op ‘n skerm wat nie veel groter as ‘n pakkie 30 sigarette is?

O, jy rook nie? Doodseker daarvan??

Nee Blade, daardie idee was doodgebore. Hoe sou die student sy/haar laboratorium/praktiese komponent voltooi?

En die studente wat in die landelike Transkei en Bosbokrand en ander dele woonagtig is waar daar geen selfoonsein is nie, wat van hulle Blade?

Nee Blade, begin nugter dink en beplan liewer beter vir 2021!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.