UP-taalbeleid: Sê jou sê

Die Skip (Universiteit van Pretoria) Foto: AfriForum Jeug

Die Skip (Universiteit van Pretoria) Foto: AfriForum Jeug

Die werkgroepe wat die Universiteit van Pretoria (UP) se taalbeleid ondersoek, het die naweek tydens ʼn bosberaad vorderingsverslae ter tafel gelê. Lede van die publiek het nog die week om voorleggings in te dien.

Anna-Retha Bouwer, woordvoerder van die UP, het gesê daar is tydens die bosberaad besluit dat die werkgroepe oor die taalbeleid nog verdere besprekings en siftingsprosesse moet volg voordat ʼn voorlegging aan die raad gedoen sal word.

Die drie werkgroepe fokus op taalbeleid, kurrikulumhervorming en institusionele kultuur en bestaan uit verteenwoordigers van studentegroepe, die UP-bestuur en fakulteitsrade wat tydens ʼn bosberaad in Maart saamgestel is. “Die werkgroepe het Saterdag die vorderingsverslae wat hulle opgestel het na aanleiding van oorlegplegings sedert Maart ter tafel gelê.”

Volgens Bouwer is dit belangrik om daarop te let dat die werkgroepe geen besluitnemingsbevoegdheid het nie en slegs voorstelle maak. “Die onafhanklike paneel wat saamgestel is om vir die raad advies te gee rakende kwessies van transformasie was nie deel van die bosberaad nie aangesien die werkgroepe uit interne belanghebbendes bestaan terwyl die paneel onafhanklik optree en uit eksterne belanghebbendes bestaan.”

Die paneel sal aan die raad verslag lewer gedurende sy beplande vergadering op 22 Junie. Die raad is die universiteit se hoogste besluitnemingsliggaam en kragtens wetgewing kan slegs die raad, met instemming van die senaat, die universiteit se taalbeleid bepaal.

“Dit is belangrik dat ons, terwyl ons met die moeilike transformasievraagstuk worstel, aktief na alle lede van ons gemeenskap, onder wie studente, personeel, bestuur en eksterne belangegroepe, luister,” het prof. Cheryl de la Rey, visekanselier en rektor van UP, gesê.

Die uitkoms van die bestaande interne prosesse, soos die drie werkgroepe se voorstelle, sal aan die paneel voorgelê word. “Die uitkoms van bogenoemde prosesse sal egter ook die gewone roete deur universiteitstrukture, soos die Institusionele Forum, senaat en raad, volg.”

 

Skriftelike voorleggings kan tot 16:00 op 3 Junie aan [email protected] gestuur word vir die paneel se aandag. “Die voorstelle moet fokus rondom ʼn nuwe taalbeleid; die redes vir enige voorstel of voorstelle betreffende die regmatige en praktiese inwerkingstelling van enige nuwe taalbeleid of veranderinge aan die bestaande beleid. “Voorleggings moet bondig en hoogstens agt bladsye lank wees. Veel korter voorleggings is welkom. Slegs een voorlegging per persoon of organisasie sal oorweeg word. Die paneel se fokus sal op beredeneerde substansiële kommentaar en voorstelle wees, eerder as die getal, moontlik herhalende, voorleggings wat ʼn bepaalde standpunt ondersteun.”

Die paneel staan onder voorsitterskap van regter Johann van der Westhuizen, voormalige regter van die konstitusionele hof en die Noord-Gautengse hooggeregshof en ’n deelnemer aan die opstelling van Suid-Afrika se tussentydse en finale Grondwette. Die ander lede is me. Khanyisile Kweyama, hoof van Business Unity South Africa (BUSA) en voorsitter van die raad van trustees van Brand South Africa; dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en besturende direkteur van die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies en leier van die Voortrekkerbeweging; prof. Sheila Mmusi, voorsitter van die Setswana-taalkommissie van die Academy for African Languages (ACALAN) van die Afrika-unie, lid van die direksie van Plus94Research en hoof van die departement Mediakommunikasie en Inligtingstudies aan die Universiteit van Limpopo; regter Jeremiah Shongwe, regter van die hoogste hof van appèl en voormalige adjunk-regter-president van die Noord-Gautengse hooggeregshof; en prof. Adam Small, filosoof, digter, dramaturg en Hertzogpryswenner.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Basson ·

Die probleem is die ‘boksies word maar net getiek’ en ‘proses-formailiteite’ word afgehandel – daar sal nie opgestaan word teen ‘n paar EFF intimideerers nie en ‘n Afrikaanse volk se toekomsskat gaan opgeoffer en vernietig word deur vrees vir konflik.

Ek verstaan dat ‘n ATKV koorfees alreeds nie meer Saterdagaand in die Musaion kon plaasvind agv die EFF se dreigemente dat ALLE AFRIKAANSE kultuur geleenthede op die kampus ‘aangeval’ sal word? (O die ironie – net HULLE vryheid tel, nie vryheid vir almal, nietemin ek onderbreek myself.)

Dis net nog ‘n verdere stap vir die ‘rewolusionisering’ van UP. Gaan lees maar die EFF UP studente se Facebook bladsy en word wys. Soos voorspel het dit het toe nie gestop by Afrikaans, maar gaan eers stop wanneer ALLES wat wit en Afrikaans vernietig is.

So ‘tiek maar die boksie’ – dis maar pure oeverblindery om die Afrikaanses (wie UP begin het!) te paai. Die besuit is reeds voor die hand liggend.

Basson ·

Wou nog byvoeg – let mooi op, die ‘swaargewig’ komitee gaan net die voostelle konsolideer en VOORLE, die besluitnemingproses is geslote en ondeursigtig. Hoekom word die komitee nie saamgestel uit die WERLIKE, PRIMERE belanghebbenes, maw ‘n samestelling van oud studente, huidige studente en ouers, en toekomstige studente (ouers) nie? DIS tog die mense wie DIREK geraak word deur die besluit? (OF ‘n kombinasie van die paneel plus ouers / studente)

humor ·

Uitstekend!!! Stem volmondig saam!! Hierdie kamma deeglikheid is beslis oeverblindery.

Flippie ·

Ek is nou nie ‘n Tukkie nie was wel ‘n Kovsie. Nadat die UV besluit het om die taal van die onderdrukker as enigste amptelike en akademiese taal te aanvaar het ek opgehou om ‘n Kovsie te wees.

Die Universiteit van die Vrystaat is niks meer van my nie.

Ons sal maar ‘n outonome Afrikaanse universiteit op die been bring.

Ek is net bevrees dat die regering geen erkenning aan so ‘n instelling se kwalifikasies gee nie. En dan gaan dit ook nie help nie.

GJ de C K ·

Ja, as mens die heerskappy afgesê het, het jy ‘n onderdaan en bywoner, selfs nou: vyand, in jou eie land geword.

Watse geldige gronde het óns om op te staan in hierdie “spel” waar die spelreëls bowendien verander en opgemaak word soos dit die “boelies” pas vir wie ons die “bal” oorhandig het?

As ons regtig verder wil “speel” sal ons ‘n ander “bal” moet kry en ‘n nuwe “spel” begin en as ons daardie “spel” wil aanhou geniet – ook vir ons kinders en hulle s’n, dan moet ons nie weer so ‘stupid’ wees om toe te laat dat “boelies” van watter aard ookal die “bal” vat nie.

Tot dan kan ons maar net op ons knieë bly en ‘n Helpende Hand bly uitreik waar ons kan – so tussen die “boelies” se klappe en skoppe deur … En die houe in die ribbes van agter af deur verraaiers soos Johan Sloet de Villiers. Sies vir jou Johan, vir wat jy met Steve Hofmeyr se besoek in ‘t Gravenga gedoen het!

En sies vir elke Afrikaner in die UP strukture wat nie die nodige ruggraat het om die regte ding te doen vir dit wat nog in hulle sorg is nie.

John ·

Kan iemand ons dalk inlig wat die ware bewoording van die referendumvraag was vir die afsegging van apartheid. Ons is nou besig om dinge as vanselfsprekend te aanvaar, wat deur wilde kansvatters afgedwing word. Ek glo nie diegene wat ja gestem het, het die’ soort gevolge in hul wildste drome verwag nie. Die grondwethof moet genader word.

GJ de C K ·

John ek is bevrees ons gronde is skraps. Ons is gekul reeds in die ’83 Grondwet wat nie ‘n bepaling bevat het dat
‘n referendum vereis word vir die wysiging van daardie Grondwet nie. Al was die ’92 referendum vraag dus nie spesifiek tot ‘n afsegging van heerskappy en die vrugte wat ons nou pluk nie, het die besluit tot ‘n nuwe Grondwet reeds slegs by ‘n 2/3 meerderheid van die toenmalige 3 kamer parlement berus.

Na 2 Nov 1983 was daar dus net nog 2 Grondwetlike kanse om dié ding te kon stop: Die ’87 en ’89 Volksraad verkiesings.

Nee-stemmer of “miskien bona fide” Ja-stemmer, ons is nou daar in die Lion King storie waar Simba sy Pa soek, die leeu-wyfies honger en moeg is, “Pride Land” brand en “Scarface” (die wit mafia wat ons uitverkoop het) en die Hiënas (Zuma en kie) smul aan wat hulle nog buit kan maak.

GJ de C K ·

John, die ’92 referendum vraag was:

“Ondersteun u die voortsetting van die hervormingsproses wat die Staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat op ‘n nuwe grondwet deur onderhandeling gemik is?”

Die ’83 referendum vraag was:

“Is U ten gunste van die inwerkingtreding van die Grondwet, 1983, soos deur die Parlement goedgekeur?”

John ·

Baie dankie. Dit voel soos eeue gelede. Die mense is gevang met ‘n onsigbare slapriem…

Ben Prinsloo ·

GJ de C K. Ek sal jou baie graag wil ontmoet want ek het altyd gesê ek praat op die man af maar jy is beter as ek. Dankie vir jou siening jy is in die kol. Jy moet net asb verder verduidelik wat het gebeur toe die ware koning nie meer koning was nie. Ek het hierdie storie ook al menigmaal aan mense met wie ek te doen kry verduidelik. Ek het hom al herdoop na “The development of the New South Africa” Ja Johan jy is reg alhoewel ek glo ons is in die laaste referendum gekul.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.