Upington-moordverdagtes dán weer in hof

Judith Redelinghuys (Foto: Facebook)

Judith Redelinghuys (71), ʼn sakevrou van Upington in die Noord-Kaap, se drie vermeende moordenaars sal na verwagting weer in Oktober in die hof verskyn.

Tumelo Mavlenter Sotho (39), Martatjie Engelbrecht (31) en Nkosinathi Ntombela (35) se verhoor het die afgelope twee weke in die rondgaande hof op Upington in die Noord-Kaap plaasgevind.

Die beskuldigdes staan tereg op aanklag van moord, roof met verswarende omstandighede en dwarsboming van die gereg. Hulle het skuld op al die aanklagte ontken.

Redelinghuys se dogter, Leanne Arnon, is in die eerste week van die verhoor as getuie geroep.

Arnon het getuig hoe sy op 30 Junie 2020 op Redelinghuys se liggaam in die swembad by haar huis in ʼn woonkompleks in Budler Close, Upington, afgekom het. Haar hande was agter haar rug vasgemaak.

Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die staat het daarna die ontwerper van Redelinghuys se juweliersware na die getuienisbank geroep. Ntombela is op 2 Julie in hegtenis geneem nadat hy glo dié juweliersware by Cash Crusaders op Upington probeer verkoop het. Die derde getuie was die eienaar van dié pandjieswinkel.

Tumelo Mavlenter Sotho, Martatjie Engelbrecht en Nkosinathi Ntombela het Maandag vlugtig in die hooggeregshof in Upington, Noord-Kaap verskyn (Foto: Anja van der Merwe)

Volgens Senokoatsane het die staat verlede week nog vier getuies geroep, onder wie twee polisiebeamptes.

Die verhoor sal na verwagting tussen 3 en 14 Oktober voortgesit word. Die beskuldigdes bly intussen in aanhouding.

Luidens die klagstaat het die drie beskuldigdes vooraf gekonkel om Redelinghuys te beroof en te vermoor.

Sotho het as tuinier vir Redelinghuys se bure gewerk en het dus toegang tot die kompleks gehad. Engelbrecht en Ntombela was ten tyde van die moord getroud.

“Op 30 Junie het Sotho vir Ntombela na die kompleks ontbied om hul planne deur te voer. Redelinghuys het Sotho toegang tot haar erf gegee, waarna hy en Ntombela haar oorval het,” lui die klagstaat.

Volgens die klagstaat het die twee beskuldigdes na bewering ʼn elektriese koord en ander voorwerpe gebruik om Redelinghuys mee te verwurg. Hulle het daarna glo haar hande vasgemaak, ʼn voorskoot oor haar mond en nek gebind en haar liggaam in die swembad gegooi.

Die beskuldigdes het na bewering ʼn selfoon ter waarde van R10 000, kontant met dieselfde waarde, twee bankkaarte en juwele ter waarde van byna R250 000 gebuit.

Volgens die nadoodse ondersoek is Redelinghuys dood weens verwurging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Onnie ·

Uiters onnodig, uiters wreed vermoor. Sy was ‘n ou vrou – kon haar net oor die kop geslaan het en alles gevat het wat jou hart begeer. Hoekom so wreedaardig vermoor??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.